Nuus 06:00
BULLETIN 6 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party, BOSA en RISE Mzansi stig ‘n nuwe party
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging verbreek alle bande met die Israeliese Mediese Vereniging
# En motorsport: Russell wen in Singapoer en McLaren beklink die vervaardigerskampioenskap
# Die GOOD-party, Build One South Africa, en RISE Mzansi het kragte saamgesnoer om ‘n nuwe politieke party genaamd Unite for Change te stig. Die party sal as ‘n nuwe politieke party by die Verkiesingskommissie registreer om aan die komende 2026-plaaslikeregeringsverkiesing deel te neem. Die drie partye sal steeds onafhanklik bestaan. Die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille sê United for Change sal etiese leierskap hê, werksgeleenthede verbeter en dienslewering verbeter:
Intussen het die leier van Rise Mzansi, Songezo Zibi gevra vir ‘n volledige hersiening van Suid-Afrika se politieke leierskap na een wat visie, integriteit en generasievernuwing voorstaan. Zibi sê geen enkele politieke party het al die eienskappe wat nodig is om die land reg te ruk nie:
# Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika in die Oos-Kaap, is bekommerd oor die toenemende krisis van verhoudings tussen onderwysers en leerders. Dit sluit in bewerings van swangerskappe en die druk om dit te beëindig. Die provinsiale uitvoerende hoof, Loyiso Mbinda, sê die vakbond onderrig opvoeders oor etiek en professionaliteit. Mbinda dring daarop aan dat die gedragskode van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders streng nagekom word en waarsku dat oortreders ontslag en deregistrasie in die gesig staar. Hy doen ‘n beroep op ouers en gemeenskappe om wangedrag aan te meld en leerders se veiligheid en waardigheid te beskerm.
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het alle professionele en bilaterale betrekkinge met die Israelse Mediese Vereniging opgeskort. Die SAMV sê sy Israelse eweknie moet uit die Wêreld Mediese Vereniging verban word weens sy optrede te midde van die humanitêre krisis in Gaza. Die skorsing sal voortduur totdat die Israelse Mediese Vereniging die vrylating van Palestynse mediese personeel eis, die venietiging van Gaza se gesondheidsorg veroordeel en mediese toegang vir almal onder Israelse beheer verseker.
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy hoop om die vrylating van alle gyselaars in Gaza in die komende dae aan te kondig. Dit volg terwyl Israel en Hamas gereed maak vir onderhandelinge oor die VSA-vredesplan om die oorlog in Gaza te beëindig. In ‘n kort verklaring het Netanyahu gesê hy het ‘n afvaardiging na Egipte gestuur om tegniese besonderhede te finaliseer. Hamas sal die oorblywende 48 gyselaars – waarvan ongeveer 20 glo nog leef – binne drie dae vrylaat. Dit sal die mag opgee en ontwapen, terwyl Israel sy aanval moet staak en uit ‘n groot deel van Gaza onttrek.
# Motorsport: Mercedes-renjaer George Russell het ‘n oorheersende oorwinning in die Singapoer Grand Prix behaal, sy tweede van die seisoen. Red Bull se Max Verstappen en Lando Norris van McLaren het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Oscar Piastri moes met die vierde plek tevrede wees, en sy voorsprong bo spanmaat Norris is nou verminder tot 22 punte in die jaerskampioenskap. Intussen het McLaren die vervaardigerskampioenskap vir die tweede agtereenvolgende jaar beklink. Russell sê hy is tevrede met sy oorwinning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-550-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-910-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….