Nuus 06:00
BULLETIN 25 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Veelparty-handves onthul ‘n plan om werkloosheid en armoede aan te pak
# Twee beskuldigdes sê Kelly Khumalo het opdrag gegee vir Senzo Meyiwa se moord
# En, Rusland beskuldig Oekraïne van ‘n terreurdaad nadat ‘n vliegtuig met 74 mense afgeskiet word
# Die Veelparty-handves vir Suid-Afrika het ‘n omvattende plan onthul om die stygende werkloosheidsyfer aan te pak en ekonomiese groei te bevorder te midde van kommerwekkende ekonomiese uitdagings. Die werkloosheidsyfer staan op 41-persent, en die handves wil staatsfinansies bestendig maak en onderwysgehalte verbeter. Die voorgestelde plan fokus ondermeer op die ontsluiting van beleggingspotensiaal, en die bemagtiging van die klein-, mikro- en medium-ondernemingsektor. Die president van ActionSA, Herman Mashaba sê op die vooraand van die verkiesing bied die handves ‘n aantreklike alternatief vir die ANC se ekonomiese benadering:
# Die Automobiel Assosiasie bly bekommerd oor die een-duisend-427 padsterftes gedurende die feestyd. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het bekend gemaak dis ‘n vermindering van 25 sterftes vergeleke met die vorige jaar. Die AA voer aan die sterftes is steeds te hoog, wat die behoefte aan dringende omvattende maatreëls beklemtoon. Die vereniging waardeer die verhoogde wetstoepassing maar vra volgehoue pogings deur die jaar om die rol van menslike foute in 80-persent van die voorvalle te bekamp. Die AA bepleit deurlopende opvoeding en bewusmakingsveldtogte om betekenisvolle verbetering teweeg te bring.
# Beskuldigde een en twee in die Senzo Meyiwa-moordverhoor het die sokkerster se destydse meisie, Kelly Khumalo, betrek as die persoon wat opdrag vir sy moord gegee het. Meyiwa is in Oktober 2014 doodgeskiet terwyl hy Khumalo by haar ma se huis in Vosloorus besoek het. Vyf verdagtes staan tereg. ’n Beëdigde verklaring wat gister deur die hoofondersoeker, Bongani Gininda, by die Hooggeregshof in Pretoria voorgelees is, lui dat Khumalo deur selfoonontleding met die beskuldigdes, Muzi Sibiya en Bongani Ntanzi, verbind is:
# Rusland se ministerie van Verdediging het Oekraïne beskuldig dat hy ‘n vliegtuig met 65 Oekraïense krygsgevangenes, ses bemanningslede en drie Russiese dienspligtiges doelbewus in die Belgorod-streek afgeskiet het. Rusland se ministerie van Verdediging sê Kiëf het ‘n lugafweermissielstelsel gebruik om die vliegtuig in ‘n terreurdaad af te skiet. Die Oekraïnse weermag kon nie bevestig of die vliegtuig wel neergestort het nie, maar het die Russiese weermag daarvan beskuldig dat hulle militêre vragvliegtuie gebruik het om missiele in die Belgorod-streek af te lewer, om die onlangse oorgrensaanvalle uit te voer.
# Rugby: Die Blitsbokke is in Australië vir hierdie naweek se sewestoernooi in Perth. Selvyn Davids voer die groep aan wat twee nuwe spelers insluit, David Brits en Tristan Leyds, wat van die vyftienmanspel oorgeskakel het. Drie spelers keer na die groep terug – die stut James Murphy en die spelskeppers Donovan Don en Ricardo Duarttee. Duarttee is verlede seisoen aangewys as Jong Speler van die Jaar, maar het die wêreldreekstoernooie in Dubai en Kaapstad misgeloop. Hy sê hy is gereed om ‘n verskil te maak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-62-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-14-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-35-sent per vat.
# En om mee af te sluit, Afrika se eerste diep ondergrondse wetenskaplaboratorium naby die Paarl, bekend as PAUL, gaan binne die volgende vyf tot tien jaar ‘n werklikheid word. Dit word ingerig in die Du Toitskloofberge in die Wes-Kaap, en sal die vasteland se eerste en die Suidelike Halfrond se tweede laboratorium van hierdie aard wees. PAUL het ten doel om donker materie te bestudeer en unieke navorsing in verskeie velde te doen. Professor Faïrouz Malek van die Universiteit Stellenbosch sê die laboratorium se vestiging sal aansienlike voordele vir wetenskap, onderwys en die breër gemeenskap inhou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….