Nuus 06:00
BULLETIN 26 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika se buitelandse beleid is geanker in multilateralisme en respek vir soewereiniteit
# Die Buitelandse Persvereniging wil ‘n onmiddellike verduideliking van Israel hê
# En rugby: Die Bok-vroue verskuif hul fokus na Italië nadat hulle Brasilië in die Wêreldbeker-toernooi verslaan het
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se buitelandse beleidsvooruitsigte word nie bepaal deur druk wat deur eksterne magte uitgeoefen word nie, maar deur beginsels. In sy weeklikse nuusbrief sê die president die land se toewyding aan vrede, geregtigheid en die oppergesag van die reg, ten spyte van kritiek, het die besluit beïnvloed om Israel na die Internasionale Geregshof te neem. Ramaphosa sê die land se diplomasie sal steeds gelei word deur respek vir soewereiniteit, en dat onderhandeling en dialoog die sleutel is in die bemiddeling en oplossing van konflik.
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Sentrale Banke vorder met die verlaging van wêreldwye inflasie. Kganyago het na sy terugkeer van die Jackson Hole Ekonomiese Simposium in die VSA, aan SABC News gesê gevare bestaan egter steeds, insluitend handelstariewe wat pryse kan verhoog. Hy is bekommerd oor die hoë lewenskoste wêreldwyd en voeg by die uitdaging is om ‘n afname in die inflasiekoers te behou terwyl nuwe ekonomiese druk gemonitor word:
# AfriForum beskuldig Stad Tshwane dat hy probeer om bykomende geld te maak ten koste van die inwoners. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria die stad se aansoek om te appelleer teen die skoonmaakheffing verwerp het en dit slinks en sonder meriete genoem het. Die uitspraak is ‘n tweede terugslag vir die munisipaliteit, wat nou weer ‘n keer die organisasie se regskostes moet betaal. Arno Roodt van AfriForum sê die beslissing beskerm die belastingbetaler teen onregmatige aanklagte:
# Die Buitelandse Persvereniging het ‘n onmiddellike verduideliking van die Israelse weermag en premier Benjamin Netanyahu se kantoor geëis na aanleiding van die dood van ‘n groep joernaliste. Ten minste 20 mense, insluitend vyf joernaliste, is dood in ‘n Israelse aanval op die Nasser-hospitaal in die suidelike Gazastrook. Dit kom twee weke nadat ses joernaliste dood is in ‘n Israelse aanval naby die al-Shifa-hospitaal in Gazastad. Die Buitelandse Persvereniging sê Israel moet onmiddellik sy praktyk om joernaliste te teiken, staak.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Springbok-vrouespan, Swys de Bruin, sê hulle fokus skuif nou na Italië nadat hulle Brasilië met 66-6 vermorsel het in hulle eerste Wêreldbeker-wedstryd. Nommer agt, Aseza Hele, het drie van Suid-Afrika se tien drieë gedruk. De Bruin sê al is Brasilië die laagste gekeurde span in die toernooi, is hy steeds trots dat sy span vir 80-minute voluit gespeel het. Hy meen egter hulle moet hul balhantering verbeter. Die Bokke speel Sondag teen Italië en hulle laaste groepwedstryd is ‘n week later teen Frankryk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-55-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Shoprite verseker Suid-Afrikaners sy nuwe slim Xpress-trollie hou geen bedreiging in vir werksgeleenthede nie. Die toets, wat by Checkers Hyper in Brackenfell en Checkers Constantia in die Wes-Kaap uitgevoer word, gebruik 20 tegnologies-gevorderde trollies wat dit moontlik maak vir kliënte om self produkte te skandeer terwyl hulle die totaal dophou, en om direk van die trollie af te betaal. Shoprite sê die vernuwing is om die inkopie-ondervinding te verbeter, nie om werkers te vervang nie. Intussen word nuwe poste soos opsigterassistente en tegniese ondersteuning geskep soos die tegnologie ontwikkel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….