Nuus 06:00
BULLETIN 18 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande ontken dat hy beïnvloed is met die toekenning van ‘n NSFAS-tender
# Universiteite SA is bekommerd die voorgestelde studieleningsbeleid sal NSFAS belemmer
# En, Amerika wys die Houthi’s aan as ‘n wêreldwye terreurgroep
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het bewerings verwerp oor sy beweerde beïnvloeding rakende die toekenning van ‘n tender vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aan Vision Wave se besturende direkteur, Tilson Manyoni. Die minister het na aanleiding van mediaberigte verduidelik Manyoni is nie sy raadgewer nie en was nog nooit nie. Nzimande bestempel die bewerings as verdere pogings om sy naam te beswadder. Die ministerie se woordvoerder, Veli Mbele, sê Nzimande is steeds verbind tot ‘n gladde begin van die nuwe akademiese jaar:
Universiteite Suid-Afrika het intussen gewaarsku die voorgestelde studenteleningsbeleid kan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente knou. Die lening sal huishoudings met ‘n jaarlikse inkomste van tussen 350-duisend- en 600-duisend-rand bevoordeel. Minister Nzimande se aankondiging van lenings vir die sogenaamde verlore middelklas het ten doel om diegene te help wat nie hul studies kan bekostig nie. Die uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika, Phethiwe Matutu, het met SABC Nuus gepraat en gevra dat die nuwe beleid se volhoubaarheid ondersoek moet word:
# Die EFF in Tshwane doen ‘n beroep op die DA en ActionSA om die welstand van werkers en die gemeenskap voor politieke oorwegings te plaas. Die stadsraad vergader vandag om ActionSA se kandidaat Nasiphi Moya tot die nuutgeskepte pos van onderburgemeester te verkies. Die ANC en EFF het reeds gesê hulle gaan die stap teenstaan. Die EFF-streekvoorsitter, Obakeng Ramabodu, het die DA-geleide koalisieregering daarvan beskuldig dat hulle persoonlike agendas nastreef. Hy het bygevoeg ‘n onderburgemeester sal ongeregverdigde druk op ‘n munisipale begroting plaas wat reeds onder druk is.
# Die families van die afgestorwe ANC-veterane oud-minister Collins Chabane en uMkhonto we Sizwe-bevelvoerder Peter Malada het pogings deur oudpresident Jacob Zuma se nuwe party gekritiseer, om die oorlede helde se grafte in Limpopo te besoek. As deel van uMkhonto weSizwe se verkiesingsveldtog, het Zuma se program die naweek besoeke aan die grafte van die twee veterane ingesluit. Die Collins Chabane-stigting het Zuma en sy MK-party gekritiseer omdat hulle grafte gebruik om stemme te werf, en gebroke loopbane te laat herleef. Die Peter Dambuza-stigting het die MK-party se optrede as opportunisties bestempel.
# Amerika het die Iran-gesteunde militante Houthi-groep heraangewys as ‘n spesiaal aangewese wêreldwye terreurgroep. Hierdie stap kom te midde van voortgesette aanvalle deur die militante groep op kommersiële skeepvaart in die Rooisee. Die Withuis se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê hierdie benaming is ‘n belangrike instrument om terreurfinansiering aan die Houthi’s te belemmer, hul toegang tot finansiële markte verder te beperk, en hulle aanspreeklik te hou vir hul optrede. Die aanwysing sal binne 30 dae in werking tree.
# Rugby: Die haker, Jamie George, sal Engeland in die Sesnasies-reeks aanvoer nadat Owen Farrell besluit het om ‘n blaaskans te neem van die internasionale spel. Die 33-jarige George het in 2015 sy buiging vir Engeland gemaak en het sedertdien in 85 toetse gespeel en 65 punte aangeteken. Hy het ook drie wedstryde gespeel tydens die Britse en Ierse Leeus se toer na Nieu-Seeland in 2017. Die span begin die derde van volgende maand sy veldtog teen Italië in Rome. Afrigter Steve Borthwick verduidelik waarom hy George gekies het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-507-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-9-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….