Nuus 06:00
BULLETIN 10 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA en IVP sal aan hul leierskap verslag doen oor die ANC se voorstel oor ’n regering van nasionale eenheid
# City Power stel ladingsvermindering in as gevolg van hoë kragverbruik
# En Ajay en Anil Gupta word borgtog geweier vir hul beweerde betrokkenheid by die selfdood van ‘n sakeman
# Die DA en die IVP sal vandag hulle leiers op die hoogte bring oor die voorstel van die ANC oor ‘n regering van nasionale eenheid. Dit volg na voortgesette onderhandelings terwyl die spertyd vir die samestelling van ‘n nuwe regering nader kruip nadat die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing kon behaal nie. Die DA gaan aan sy federale uitvoerende raad verslag doen terwyl die IVP ‘n spesiale vergadering van sy uitvoerende komitee gaan hou om die voorstel te bespreek.
Cosatu sê intussen hy sal die week met die ANC vergader om die basiese kragte en vereistes van ‘n nasionale eenheidsregering, te verstaan. President Cyril Ramaphosa het verlede week gesê die ANC het besluit op ‘n nasionale eenheidsregering as die beste opsie vir die land na die algemene verkiesing. Matthew Parks van Cosatu sê hulle hoop ook om die beleidsbuitelyne van ‘n regering van nasionale eenheid te verstaan:
# City Power het vanoggend begin met ladingsvermindering in verskeie gebiede in Johannesburg om die netwerk te beskerm. Dit sluit in rimpel-aflosstelsels wat elektrisiteit na geisers onderbreek en die lading na substasies met hoё verbruik verminder, asook die teiken van onwettige koppelings. Die woordvoerder Isaac Mangena sê ladingsvermindering gebeur gedurende spitstye soggens, laatmiddag en saans en die inperking van slimmeters begin in Julie:
# Ajay en Anil Gupta is borgtog geweier in verband met hul beweerde bystand met die selfdood van die sakeman Satinder Singh Sawhney. Hulle is verlede maand in Dehradun, die hoofstad van die staat Uttarakhand, gearresteer. Die 52-jarige Sawhney was ‘n boukontrakteur wat saam met die Guptas aan behuisingsprojekte gewerk het. Sy liggaam is aan die onderkant van ‘n woonstelblok gevind. Indië se direkteur van vervolging, Girish Pancholi, sê Sawhney het Ajay en Anil Gupta daarvan beskuldig dat hulle hom gedwing het om selfdood te pleeg nadat hulle hom valslik beskuldig het.
# Rugby: SA Rugby het bevestig dat spelers in Europa, Brittanje en Ierland nie vir die Springbokke se eerste toets van die seisoen teen Wallis op Twickenham later vandeesmaand oorweeg sal word nie. Dit sluit in die Springbok-kaptein Siya Kolisi, wat vir die Franse klub Racing92 speel. Die span het vir die Top 14-uitspeelwedstryde gekwalifiseer, met die halfeindronde op dieselfde naweek as die Wallis-toets. Bulle-spelers sal ook nie oorweeg word nie weens hul betrokkenheid by die uitspeelwedstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-521-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-294-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Skaars en duur ring waarin die Eden Rose pienk diamant van Suid-Afrika geset is, sal na verwagting R188-mijoen-rand haal wanneer dit môre by Christie’s-afslaers in New York opgeveil word. Die besondere, vlekkelose pienk diamant van tien-karaat word vandag nog by die Rockefeller-sentrum uitgestal. Die internasionale hoof van Juweliersware, Rahul Kadakia, beskryf die Eden Rose as ‘n ou steen met die oorsprong van sy kleur in die druk op die steen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….