Nuus 06:00
BULLETIN 16 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering is nou amptelik ‘n wet van die Parlement
# Die AA voorspel ‘n aansienlike daling in brandstofpryse in Junie
# En die VSA gaan ‘n ekstra R36,6-miljard se militêre hulp aan Oekraïne verskaf
# Die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsontwerp het amptelik ‘n wet van die Parlement geword nadat president Cyril Ramaphosa dit onderteken het. Die ondertekeningsplegtigheid by die Uniegebou in Pretoria was ‘n beduidende mylpaal in gesondheidsorghervorming. Opposisiepartye en sekere burgerregte-organisasies het aangekondig hulle gaan die wetgewing in die hof uitdaag. Ramaphosa het diegene kritiseer wat ‘n terugkeer na gefragmenteerde gesondheidsorg voorstaan en sê sulke sienings is uit voeling met globale standaarde:
Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla hou intussen vol die ondertekening van die NGV is nie politieke taktiek nie, maar ‘n belofte om gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners te verseker. Hy beklemtoon die omvattende aard van die wet en beskryf dit as ‘n transformerende benadering tot gesondheidsdienste. Phaahla verwerp bewerings die NGV is deurgejaag en sê meer as 60 openbare verhore is in al nege provinsies gehou met uitvoerige distriksdeelname:
# Die AA voorspel ‘n aansienlike daling in brandstofpryse in Junie. Ongeouditeerde middel-maand data van die Sentrale Energiefonds dui daarop dat 95-oktaan petrol moontlik met sowat 61-sent per liter sal daal, en 93-oktaan petrol met sowat 63-sent. Diesel sal na verwagting met sowat 74-sent per liter daal en die prys van paraffien met 69-sent. Die AA sê die vernaamste dryfveer vir die dalings is ‘n sterker rand en laer internasionale oliepryse.
# Die onafhanklike strukturele ingenieurs wat aangestel is om die ineenstorting van die gebou in George te ondersoek, word minstens ‘n jaar gegun om dit af te handel. V3 Raadgewende Ingenieurs is deur die Wes-Kaapse regering aangestel om die ineenstorting te ondersoek wat die lewens van 33 werkers geëis het met 19 wat steeds vermis word. Premier Alan Winde sê hulle moet verstaan wat gebeur het en verseker dat hulle stappe doen om ‘n tragedie van hierdie skaal te vermy, en klagtes aanhangig maak indien nodig.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het ‘n bykomende 36,6-miljard-rand se militêre hulp vir Oekraïne aangekondig. Dit volg terwyl Rusland se president Vladimir Putin sê hulle beplan ‘n verdere militêre operasie in dié land. Moskou se verdedigingsbesteding sal die komende jaar tot meer as agt-persent van sy bruto binnelandse produk styg. Blinken sê die befondsing sal drie dele bevat:
# Krieket: Oud-Protea-sterkolwer Gary Kirsten sal min tyd hê om Pakistan se span te leer ken voor die begin van ‘n vier-wedstryd T20-reeks teen Engeland. Hy sluit Sondag as hoofafrigter by die span aan, met die eerste kragmeting wat Woensdag in Headingley gespeel word. Die twee lande gebruik die reeks as finale voorbereiding vir volgende maand se Wêreldbeker in Amerika en die Karibiese Eilande. Kirsten sê die toernooi is ‘n fantastiese geleentheid vir Pakistan om sy status as ‘n formidabele krag te bewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-153-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-393-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….