Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het skaars die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering onderteken, of die vakbond Solidariteit en burgerregte-organisasie AfriForum het met ‘n regsgeding teen die wet begin.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei soos talle ander dagblaaie met die NGV. Die koerant berig Ramaphosa het met die ondertekening van die wet gesê mense moet nie die wet vrees nie. Hy het ‘n Rolls Royce-stelsel vir Suid-Afrika beloof.
En tweedens is daar ‘n berig oor die 23-jarige GC Fourie en Ivan Coetzee van UP wat in 42 sekondes 25 sakke veevoer van 40 kilogram elk van ‘n bakkie afgelaai het. Die kragvertoning was by die Nampo-oesfees in Bothaville.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die regstappe teen die NGV.
En publiseer ‘n onderhoud wat die koerant gevoer het met die boukontrakteur van die gebou in George wat ineengestort het.
# Sowetan:
Berig Ramaphosa het die NGV nou goedgekeur, maar dit sal nog vier jaar duur om instellings op te stel voordat enige voordeel uit die versekering getrek kan word.
# En The Citizen:
Lei met: “NHI DEAD ON ARRIVAL?” Die koerant skryf ook oor die talle organisasies wat regstappe wil doen.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die NGV.
En tweedens word berig ‘n 47-jarige man van Kathu is dood en die Seereddingsinstituut is op soek na die 23-jarige Pierre Lotter en sy drie worshonde nadat hulle na bewering op ‘n eiland in Bloubergstrand vasgekeer is met hoogwater.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die NGV en skryf tweedens ook oor Pierre Lotter wat vermis word.
# En Cape Times:
Skryf die Verenigde Nasies het Suid-Afrika geloof vir die aanvaarding van gesondheidsversekering.
En berig soos Die Burger en Volksblad oor die soektog na Pierre Lotter en sy honde.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die EFF-leier, Julius Malema sê die uitslag van die nasionale en provinsiale verkiesing sal geen invloed hê op die koalisieregering in die Baai nie.
En skryf tweedens gesondheidsorgwerkers in die Oos-Kaap ervaar geestelike en fisiese spanning terwyl hulle sukkel om die konstante vloei van pasiënte wat ingebring word met koeëlwonde, steekwonde en ander geweldstrauma die hoof te bied.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die afwesigheid van ‘n DNS-laboratorium in KwaZulu-Natal vetraag die polisie se ondersoek na die beweerde verkragting van ‘n kind by ‘n kleuterskool.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig leerders van ’n skool in die Ohangwenastreek sit steeds tuis en wag op antwoorde terwyl die skool en die ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur in ‘n regsgeding gewikkel is.
Dan skryf die koerant inwoners van sekere informele nedersettings in Okahandja sit reeds die afgelope twee tot drie weke sonder water.
En laastens is daar nuus oor ‘n nuwe moderne opvoedkundige fasiliteit in Hentiesbaai.