Nuus 06:00
BULLETIN 13 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC volg ‘n geval-tot-geval-benadering ten opsigte van koalisiegesprekke
# Die Openbare Beleggingskorporasie verdedig sy steun aan Concor
# En rugby: Rassie se Bokke ontvang lof van Frankryk voor die toets in Parys
# Die ANC sê hy sal nie ’n eenvormige benadering volg in koalisie-onderhandelinge ná verlede week se plaaslikeregeringsverkiesing nie. Die woordvoerder van die party, Mahlengi Bhengu, sê elke munisipaliteit sal individueel beoordeel word, met inagneming van sy politieke dinamika, die partye wat verteenwoordig word, en die behoeftes van inwoners. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het Donderdag in Boksburg vergader om ’n mandaat vir sy onderhandelingspan te finaliseer. Daar is in meer as 130 munisipale rade geen algehele wenner nie, wat koalisie-ooreenkomste noodsaaklik maak om plaaslike regerings te vorm.
ActionSA het intussen gister se vergadering tussen sy leier Herman Mashaba en DA-leier Geordin Hill-Lewis as produktief, professioneel en wedersyds respekvol beskryf. Partye het minder as twee weke om burgemeesters vir munisipale rade te verkies. Ten spyte dat die DA die leidende party in Johannesburg en Tshwane is, sê ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, die partye is bereid om Mashaba en Nasiphi Moya as onderskeidelik burgemeesters van die twee metro’s te steun:
# Die Openbare Beleggingskorporasie het sy finansiële steun vir die bou-onderneming Concor verdedig, wat verlede maand in sakeredding geplaas is. Concor se direksie het bepaal dat die onderneming finansiële probleme ondervind en aansoek gedoen vir sakeredding. In Mei verlede jaar het die OBK sowat 1,18-miljard-rand van die maatskappy se aandeelhouerskuld in voorkeur-ekwiteit omgeskakel, wat die Staatsamptenare-pensioenfonds en Werkloosheidsversekeringsfonds Concor se effektiewe aandeelhouers maak. Die OBK sê hy het ‘n langtermynbelegger, opsies om werksgeleenthede en waarde om kliëntbeleggings te bewaar, verstandig oorweeg.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid doen ‘n beroep op inwoners om voorsorgmaatreëls teen malaria te tref, veral wanneer hulle na hoërisikogebiede reis. Die provinsie het tussen Januarie en September vanjaar 768 gevalle en 17 sterftes aangeteken, vergeleke met 554 gevalle en ses sterftes in dieselfde tydperk verlede jaar. Steve Mabona van die departement sê die meeste van die oorledenes het na ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gereis, met Mosambiek wat met die meeste gevalle verbind word:
# Jensen Huang het bedank as uitvoerende hoof van Nvidia, die wêreld se voorste vervaardiger van skyfies vir kunsmatige intelligensie. Sy vertrek volg op berigte oor twee buite-egtelike verhoudings waarvan een met ‘n vrou was wat volgens Amerikaanse owerhede moontlik bande met Chinese intelligensiedienste het. Huang het erken hy was ontrou aan sy vrou, maar ontken hy het geweet die vrou was na bewering by spioenasie betrokke. ‘n Afsonderlike verhouding met ‘n senior werknemer van Nvidia het die druk op die 63-jarige verder verhoog. Die finansiële hoof, Colette Kress, is aangestel as tussentydse uitvoerende hoof.
# Rugby: Die Franse afrigter, Fabien Galthie, het die Springbokke as een van die beste rugbyspanne ter wêreld geloof, voor vanaand se Nasieskampioenskap-toetswedstryd in Parys. Galthie sê die viermalige wêreldkampioene is klinies in elke aspek van die spel, wat teenstanders baie min ruimte of tyd laat om aan te val. Hy sê Suid-Afrika se fisieke benadering beïnvloed ook die taktiese en tegniese aspekte van ‘n wedstryd. Die Bokke kom op die Stade de France teen Frankryk te staan met die afskop vanaand om tien-oor-tien Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-403-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-876-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….