Nuus 06:00
BULLETIN 6 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê die vaslegging en verifikasie van verkiesingsuitslae vorder goed
# Statistiek SA rapporteer ‘n jaarlikse afname van 5,2-persent in kragopwekking
# En die EU-kommissaris vir Vervoer sê dit is te vroeg om te sê of bomdreigemente met mekaar verband hou
# Die Verkiesingskommissie sê die vaslegging en verifikasie van die plaaslikeregeringsverkiesingsuitslae vorder bestendig regoor die land. Teen vyf-uur gistermiddag was meer as 60-persent van die 66-duisend-en-73 uitslae reeds vasgelê. Op provinsiale vlak loop die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Oos-Kaap voor. Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê die verifikasie- en gehalteversekeringsproses is daarop gemik om die akkuraatheid, deursigtigheid en integriteit van die uitslae te verseker voordat dit gefinaliseer word:
Moepya sê ook hul verbeterde probleem-opsporingstelsel het reeds meer as duisend gevalle opgelos wat sedert die begin van spesiale stemme Maandag aangemeld is. Die stelsel funksioneer binne die kommissie se virtuele platform, waardeur klagtes of logistieke struikelblokke, hetsy op die verkiesingsdag of tydens die spesiale stemme, aangemeld, gemonitor en vinniger opgelos kan word. Moepya sê hulle verwag die samevoegingsproses van die uitslae sal teen die naweek afgehandel wees:
# Solidariteit sê loononderhandelinge tussen Kumba Iron Ore en vier vakbonde het ná vyf maande tot stilstand gekom. Hoewel die aanbiedinge vir salarisverhogings van 4,5% tot 5% aanvaarbaar is, draai die dooiepunt om Kumba se vereiste dat werkers ’n nuwe skofrooster moet aanvaar wat verpligte werk op al 12 openbare vakansiedae behels. Gideon du Plessis van Solidariteit sê die bestuur ontduik sy verantwoordelikheid deur hierdie kwessie op hulle af te skuif, in plaas daarvan om regstreeks met die werknemers te onderhandel. Du Plessis het ’n beroep op Kumba se leierskap gedoen om verantwoordelikheid te neem.
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitsopwekking het in September met 5,2-persent afgeneem en seisoen-aangepaste produksie het ‘n geringe maandelikse toename van 0,4-persent getoon in vergelyking met Augustus. Elektrisiteitsverbruik het met 1,5-persent toegeneem vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Op ‘n maandelikse grondslag het elektrisiteitsverspreiding met 0,9-persent gedaal. Tsholofelo Ditinti van Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitsopwekking het tussen Julie en September met 0,4-persent gedaal, terwyl elektrisiteitsverspreiding met 0,4-persent toegeneem het:
# Die Europese Kommissaris vir Vervoer, Apostolos Tzitzikostas, sê dit is te vroeg om te bepaal of ‘n reeks bomdreigemente teen vlugte regoor Europa met mekaar verband hou. Passasiers en bemanningslede op minstens 18 vliegtuie is gister deur bomdreigemente geraak. Verskeie vlugte is herlei, en sommige moes deur vegvliegtuie begelei word. Die dreigemente is na bewering in ‘n anonieme e-pos gemaak. Dinsdag is minstens sewe vlugte deur soortgelyke dreigemente geraak, maar geen plofstof is gevind nie. Tzitzikostas sê die owerhede monitor die situasie noukeurig en ondersoeke duur voort.
# Rugby: Die Franse afrigter, Fabien Galthié, het die ster-skakelpaar Romain Ntamack en Antoine Dupont herenig vir Saterdag se Nasieskampioenskap-kragmeting teen Fidji in Lyon. Dit is die eerste keer sedert Maart verlede jaar dat die twee saam begin, nadat albei met beserings gesukkel het. Dupont sal die span as kaptein lei terwyl Kalvin Gourgues sy eerste begin vir Frankryk in die middelveld kry. Die losvoorspeler Esteban Capilla, kan moontlik sy debuut vir Frankryk van die bank af maak nadat hy opgeroep is in die plek van die beseerde Oscar Jegou. Frankryk kom volgende Vrydag teen Suid-Afrika te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-541-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-87-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….