Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie en Brasilië het ‘n vennootskap gestig in ‘n opwindende argitektuur- en stedelike-vernuwingsprojek. Die vennootskap, wat deur die wêreldbekende innovering in Curitiba, Brasilië, geïnspireer is, is daarop gemik om die stedelike omgewing in albei lande te vernuwe. Die universiteit sê hy is gereed om die leiding te neem om ‘n toekoms te skep waar stedelike ruimtes ontwerp word wat maatskaplike geregtigheid en menslike welstand vooropstel.
# ‘n Oudstudent van die Universiteit van die Wes-Kaap, Joseph Lumbahe, het geskiedenis gemaak toe hy die eerste was om by Microsoft se gespesialiseerde globale kunsmatige intelligensie-span in Suid-Afrika aan te sluit. Hy is aangestel as senior KI-tegnologiespesialis in die KI-toepassingsontwikkelingsdomein. Lumbahe sal in sy nuwe rol die jongste KI-tegnologie gebruik om oplossings te ontwikkel wat probleme in verskeie bedrywe aanpak. Hy sê die UWK se verbintenis tot uitnemendheid en vernuwing het hom die gereedskap en vertroue gegee om sy loopbaan te bevorder:
# Die Kaapstadse sektor wat sakeprosesse uitkontrakteer het van Maart verlede jaar tot Maart vanjaar meer as tien-duisend werksgeleenthede geskep. Altesaam 90-duisend mense is nou in dié stad se oproepsentrums werksaam en die sektor dra 21-miljard-rand tot die stad se ekonomie by. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hulle sal voortgaan om die sektor te help om vaardighede te ontwikkel en werk te skep:
# Universal Pictures het die filmregte verkry vir die Grammy-wenner Britney Spears se topverkoper memoir, The Woman in Me. Die boek wat in Oktober verlede jaar verskyn het, het net in Amerika meer as 2,5-miljoen eksemplare verkoop. Spears bespreek daarin haar reis van popsterstatus tot haar wyd gepubliseerde kuratorskapsaak en haar ingewikkelde verhouding met haar familie en voormalige kêrel, Justin Timberlake. Die regisseur van Wicked, Jon M Chu, en die vervaardiger Marc Platt gaan glo die biografiese rolprent maak.
# En ten slotte: ‘n Amerikaanse gimnas wat nou die Clark Kent van die bok-apparaat genoem word, staan ‘n kans om die internet se gunsteling Olimpiese deelnemer te word. Stephen Nedoroscik het byna drie uur lank sy beurt afgewag, toe sy bril afgehaal en ‘n fantastiese vertoning gelewer in Parys. Hy het vir die span gekwalifiseer bloot op grond van sy roetine op die apparaat en die Amerikaanse mans-gimanstiekspan gehelp om sy eerste medalje in 16-jaar te wen. Nedoroscik sal môre weer in die eindronde van die individuele kompetisie deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….