Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê ‘n beduidende daling in renosterstropery in Mei en Junie kan toegeskryf word aan ‘n veldtog in KwaZulu-Natal om die diere te onthoring. Landwyd is 21 en 22 renosters in die onderskeie maande gestroop teenoor 42 en 34 verlede jaar. George sê die departement is tans besig om die raadplegingsproses vir die publisering van die hersiene bioverskeidenheidsbestuursplan vir swart- en witrenosters te finaliseer sodat dit in werking gestel kan word.
# Die verpakkingsvervaardiger, Mpact, het ‘n strategiese aandelebelang in Africa Tank bekom om droogtes, beurtwater en infrastruktuurkwessies die hoof te bied. Die belegging is gemik op die versnelling van Africa Tank se groei in, en toetrede tot, die Oos- en die Wes-Kaap. Suid-Afrika is ‘n droë land met ‘n gemiddelde reënval van 465-millimeter per jaar. Die uitvoerende hoof, Bruce Strong, sê hulle voorsien ‘n groot en snelgroeiende mark vir hoëgehalte watertenks, met huishoudings en instellings wat in watersekerheid belê om te verseker hulle het altyd water.
# En navorsing koppel El Niño-weerstoestande aan die verspreiding van ‘n nuwe cholera-variant. Die bevindings wat in die joernaal PLOS Neglected Tropical Diseases gepubliseer is, toon dat afwykende patrone van cholera-sterftes van 1904 tot 1907 saam met buitengewone seisoenale temperature en reënvalvlakke voorgekom het, en wat met ‘n El Niño-verskynsel verband gehou het. Die navorser, Xavier Rodo, sê wisseling in klimaatstoestande of die evolusionêre verandering van ‘n patogeen kan ‘n belangrike aandrywer van groot epidemies en pandemies wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….