Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Killarney gaan die eerste keer gasheer wees vir die Gautengse Streeks-waaghalsfees wat Saterdag plaasvind. Motorsportgeesdriftiges kan skaars wedren-kategorieë soos Mobil 1 V8 Supercars, Volkswagen Rookie Cup, Pabar VW Challenge, en DOE Formula Vee verwag. Die geleentheid sluit wedrenne en motor-uitstallings in. Die publiek kan ook ander vermaak geniet soos musiek, en verskeie stalletjies wat kos- en drankverkope insluit.
# Die Rooted Capital City Market in Pretoria-Oos het die naweek meer as vyfduisend besoekers gelok. Dit spog met konserte deur musikante soos Abrie van der Westhuysen en Etienne Pieterse, kunswerke, smullekker kos, vars groente, klere, juweliersware en talle ander items. Inwoners loof die mark vir sy gesins- en troeteldiervriendelike omgewing, en wat die mark doen om die gemeenskap te verenig. Dit word elke twee tot drie maande aangebied.
# Kaapstad Opera nooi jong sangers tussen nege en 15 jaar in die Kaapstadse metro uit om ʼn oudisie te doen vir sy kinderkoor en Foundation Studio. Hierdie projekgebaseerde koor oefen slegs enkele weke voor elke opvoering of konsert. Dis tot aansoekers se voordeel indien hulle minstens ʼn jaar lank in ʼn koor gesing het. Die sluitingsdatum vir aansoeke is die 23ste van volgende maand en oudisies word op die 29ste in die Kunstekaap-teatersentrum gehou.
# ‘n Student aan die Universiteit van Pretoria, Nina du Preez, gaan Engeland en Skotland besoek nadat sy onlangs die Abe Bailey-reisbeurs ontvang het. Die beurs is daarop gemik om jong studente en personeel se horisonne te verbreed, globale leierskapsontwikkeling aan te moedig en taal- en kultuur-verskeidenheid te kweek. Die 23-jarige Du Preez is besig met haar BA-graad in Geesteswetenskappe met Afrikaans en Antieke Kultuurstudies as hoofvakke. Sy sê die program sal haar toelaat om met eendersdenkende individue te kommunikeer en haar perspektiewe uit te daag.
# En Marvel Studios se rolprent Deadpool & Wolverine met Ryan Reynolds en Hugh Jackman as die sterre, het wêreldwyd meer as agt-miljard-rand ingeoes tydens sy openingsnaweek. Dit is die sesde meeste tot dusver die jaar en meer as 13,6-miljoen mense het kaartjies gekoop om die fliek te sien wat net soveel is as verlede jaar se lokettreffer, Barbie. Twisters, met Glen Powell in die hoofrol, het tot die tweede plek teruggesak, gevolg deur Universal en Illumination se Despicable Me 4.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….