Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Eskom in Gauteng het 267 huise in ‘n informele nedersetting in Kromdraai, in die Mogale City plaaslike munisipaliteit, van elektrisiteit voorsien. Eskom se woordvoerder, Amanda Qithi, sê die projek is ʼn groot mylpaal in sy voortgesette pogings om Suid-Afrikaners in die Gauteng-provinsie se lewensgehalte te verbeter deur betroubare en veilige elektrisiteit te voorsien:
# Die Innibos Nasionale Kunstefees is tans aan die gang in Mbombela, Mpumalanga. Volgens die Kruger-Laeveld Kamer vir Sake en Toerisme sal die geleentheid na verwagting die provinsie se ekonomie ‘n hupstoot gee. Meer as 200 kunstenaars in die fees stel hul talent in kuns, teater en musiek ten toon. Die bedryfshoof, Linda Grimbeek, berig die fees genereer jaarliks ongeveer 90-miljoen-rand vir die plaaslike ekonomie. Die fees hou tot môre aan.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Kuns en Ontwerp berei voor vir sy sesde TUT Kunstefees vanaf 2 tot 4 September. Hy bou voort op die tema, Artivism, en die Fees fokus op hoe ‘n kreatiewe bewussyn vreugde sal skep in ‘n samelewing wat ‘n magdom uitdagings in die gesig staar. Die Fakulteit is opgewonde om ‘n baanbrekersvennootskap met die Riky Rick-stigting vir die Promotion of Artivism, Community Arts Network and the Global Commons Alliance aan te kondig vir die hoogs verwagte eerste Global Artivism Conference in September.
# bp Suidelike Afrika het 2,5-miljoen-rand geskenk om 100 student aan die Noordwes-universiteit te help om uitstaande klasgeld te vereffen om die arbeidswêreld met selfvertroue te betree. Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het vroeër in antwoord op ‘n vraag in die parlement gesê 56-duisend-627 studente aan die NWU se klasgeld is uitstaande. Die rektor en visekanselier, professor Bismark Tyobeka, sê talle talentvolle studente het ‘n tragiese tekort wat dringend aangespreek moet word. Tyobeka sê hulle is dankbaar teenoor bpSA vir die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika.
# En ten slotte: Sedert sy ontstaan in 2001, het Tulbagh se jaarlikse Kersfees in Winter-fees ‘n groot gunsteling op die Wes-Kaapse toerisme-kalender geword. Feesgangers kan hierdie naweek terugreis in tyd op ‘n stoomtrein, wat deur Ceres Rail Company bestuur word. Die trein vertrek vandag vanaf Kaapstad en neem passasiers deur Paarl, Wellington, die Nuwekloofpas, en stop dan by Tulbaghwegstasie. Gaste word per toerbus na Kerkstraat vervoer vir ‘n naweek propvol wynproeë, kuns en handwerk, vermaak en bowenal, al die pret van Kersfees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….