Nuus 14:00
BULLETIN 13 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom wil meer krag op Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk sit
# Die oorlewende van die plaasaanval in Noordwes word uit die hospitaal ontslaan
# En krieket: Australië se heerliggaam steun Cummins te midde van die jongste skuurpapier-onthullings
# Eskom sê sy vierde jaarlikse konferensie vir onafhanklike kragprodusente in Johannesburg fokus op die verbetering van netwerkverbindings en praktiese oplossings om meer krag op die netwerk te sit. Onafhanklike produsente en belanghebbendes in die elektrisiteitsektor woon dit by. Die tema is, “Van Hervorming tot Veerkragtigheid – Bemagtig vir Billike Energie-oordrag” Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê toegang tot die kragnetwerk bly noodsaaklik om nuwe kragprojekte te bevorder en energiesekerheid te versterk:
# Die Internasionale Federasie vir Christelike Kerke vra die opskorting van die huidige samesprekings wat deur die Artikel 22-komitee van sy regtekommissie gevoer word. Die kommissie hou tans openbare verhore oor hoe kerke hul eie sake beheer, etiese en gepaste gedrag, asook wetsnakoming. Sekretaris-generaal Giet Khosa sê die proses dien geen opbouende doel nie en saai verdeeldheid en vrees in die godsdienssektor:
# Die familie van Donovan Marx, wat ‘n plaasaanval in Noordwes oorleef het, sê ‘n lang pad na herstel lê voor, maar hy is minstens uit die hospitaal ontslaan. Nabye familielede en vriende het die 50-jarige emosioneel ingewag toe hy die hospitaal in Potchefstroom saam met sy vrou, Louise, verlaat het. Marx is twee weke gelede gewelddadig aangeval op sy plaas naby Ventersdorp, gesteek en geskiet en sy ore afgesny. Vier beskuldigdes het vanoggend hulle borgtog-aansoeke laat vaar in Ventersdorp se Landdroshof terwyl ‘n vyfde staatsgetuie geword het.
Nuus uit die buiteland:
# Die Indiese hoofstad, Delhi, het Lahore in Pakistan verbygesteek as die wêreld se mees besmette groot stad. ‘n Dik besoedelingswolk hang tans oor Delhi. Die Switserse moniteringsgroep IQAir het ‘n luggehalte-aanwyser van 334 aangeteken, wat geklassifiseer word as gevaarlik, terwyl Indië se amptelike moniteringsagentskap ‘n nóg hoër lesing van 403 aangemeld het, wat as ernstig beskou word. Dit verminder sigbaarheid op groot paaie. Voertuig-uitlaatgasse, bouery en rook van brandende landerye word in die lug vasgevang en dra by tot die erge besoedeling oor noordelike Indië en die naburige Pakistan.
# Krieket: Toetskaptein Pat Cummins het Krieket Australië se steun te midde van die jongste skuurpapier-onthullings. Hy het aan die media gesê sy gewese spanmaat, Usman Khawaja, se bewerings dat die hele span in 2018 in Suid-Afrika geweet het van die plan om met die bal te peuter, is heeltemal verkeerd. Cummins was deel van daardie span, maar slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft is gestraf. Krieket Australië se voorsitter, David Boon, sê hulle het volle vertroue in Cummins se leierskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-205-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-901-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….