Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê die stad het die grootste , ten volle geakkrediteerde opleidingsprogram vir ambagslui in die land waar meer as vierduisend jongmense reeds opgelei is. Tshwane het ‘n nuwe groep van 114 studente aan die stad se vaardigheidsopleidingsprogram van drie jaar aan Tshwane se Leierskaps- en Bestuursakademie verwelkom. Brink sê die groep se ouderdom wissel tussen 20 en 25, wat beteken dit is ‘n ware jeugbemagtigingsprogram:
Brink open vandag in samewerking met Mpathy Clinics die Mpathy Private Gesondheidskliniek in Pretoria-Noord. Mpathy Clinics, ‘n dogtermaatskappy van Rhiza Babuyile, het die stad se Gesondheidsdepartement in 2023 genader om as vennoot ʼn privaat kliniek te open wat die gesondheidsorg-gaping oorbrug en dienste lewer in gebiede waar dié sorg gebrekkig is. Die stad het die skenking van ʼn perseel uit die privaat sektor gereël waar Mpathy sy vyfde kliniek kan oprig. Dit lewer noodsaaklike mediese dienste deur gesondheidsorg van hoë gehalte te bied wat nie meer as 300-rand kos nie.
# Die Universiteit van die Vrystaat se voedsel-laboratorium het ʼn nuwe reeks bekostigbare, proteïen-ryke suiwelprodukte bekendgestel wat van sojabone gemaak is. Die laboratorium het sedert sy stigting vroeg in 2023 ʼn verskeidenheid hoëproteïen-plantprodukte ontwikkel wat soja-wors en -maalvleis insluit. Hulle het ook gesonde peuselhappies bekendgestel soos geroosterde sojaneute wat grondboontjies as proteïenbron kan vervang.
# Die 26ste aanbieding van Afrika se voorste fees vir dokumentere films, Encounters, het in Kaapstad afgeskop om top-produksies te vertoon. Die Suid-Afrikaanse dokumentêr, Mother City, wat deur Miki Redelinghuys en Pearlie Joubert vervaardig is, het die fees gister geopen. Die geleentheid bied ʼn verskeidenheid plaaslike en internasionale films aan en duur tot 30 Junie in Kaapstad en Johannesburg. Encounters is in 1999 gestig en het ʼn toonaangewende fees vir dokumentêre flieks op die vasteland geword.
# En, Stellenbosch Universiteit het die Mariner 4.0-toepassing bekendgestel, ‘n rewolusionêre stelsel wat seevaarders help teen bewegingsiekte. Die stelsel monitor bewegingsiekte intyds en verminder die voorkoms en die erns van die simptome. Die navorser by die universiteit, Nicole Taylor, sê die toepassing is aan boord die SA Agulhas twee ingespan, versamel data met individuele ervarings en verskaf waardevolle insig vir die beplanning van vaarte en skeepsontwerp:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….