Nuus 14:00
BULLETIN 6 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma-Sambudla se aansoek om strafregtelike aanklagte te laat vaar word geweier
# Die VF Plus is gereed vir koalisiegesprekke
# En sokker: Kane verleng sy verblyf by Bayern met nog twee jaar
# Die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Durban het oudpresident Jacob Zuma se dogter se aansoek verwerp om aanklagte teen haar te laat vaar in verband met die onluste van Julie 2021. Duduzile Zuma-Sambudla word beskuldig van die aanhitsing van terrorisme en openbare geweld op sosiale media nadat haar pa begin het om sy tronkstraf uit te dien. Die saak is tot 17 Mei volgende jaar uitgestel. Zuma-Sambudla het buite die hof gesê sy sal aanhou veg om haar onskuld te bewys:
# Die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, sê die party is gereed om deel te neem aan doelgerigte koalisiegesprekke ná die munisipale verkiesing. Hy het gepraat in die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng. Mulder sê die party is bereid om met ander politieke groeperings saam te werk om bestendigheid, goeie staatsbestuur en gemeenskapsontwikkeling te bevorder. Hy sê die VF Plus sal sy politieke identiteit en beginsels in enige koalisieregering behou:
Die Afrika Mayibuye-beweging, gestig deur Floyd Shivambu, het intussen na vore getree as die amptelike opposisie in die Groter Giyani- en die Collins Chabane-plaaslike munisipaliteit in Limpopo. Die party se veldtog het sterk gefokus op plaaslike diensleweringsprobleme, insluitend watertekorte en infrastruktuur. Agt-en-vyftig-persent van die stemdistrikte is reeds getel en die party het 18-persent van die stemme in Groter Giyani en 14-persent in Collins Chabane. Dit skuif die EFF af na derde plek op vyf-persent. Die ANC loop steeds voor met onderskeidelik 59- en 65-persent van die stemme.
# Suid-Afrika se Internasionale Handelsadministrasiekommissie het voorlopige teenstortingsregte ingestel op sekere boute en skroewe wat uit China en Maleisië ingevoer word. Die kommissie sê sy voorlopige ondersoek het bevind dat die produkte teen stortings-pryse verkoop is, wat wesenlike skade aan vervaardigers in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie berokken. Die maatreëls sal vir ses maande van krag bly. Die heffings wissel van 64,57- tot 258,57-persent, afhangende van die produk en die land van oorsprong.
# Sokker: Vanjaar se Ballon d’Or-wenner, Harry Kane, sal vir nog twee jaar vir die Duitse klub Bayern München speel. Engeland se kaptein het sy kontrak tot 2029 verleng. Die 33-jarige sê hy voel tuis in München en is mal oor die ondersteuners, die span en die afrigter, Vincent Kompany. Kane het in 2023 aangesluit en die klub het sedertdien twee Bundesliga-titels en ’n Duitse Beker gewen. Die doelskieter het vinniger as enige ander speler in Duitsland 100 Bundesliga-doele aangeteken – binne slegs 98 wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-977-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-65-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….