Goeie nuus
BULLETIN 14 Junie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Tafelberg het nou beroemdheid verwerf as Suid-Afrika se besigste en gewildste stapomgewing en ‘n wêreldbrandpunt vir Instagrammers. Explore Worldwide se peiling het sy gewildheid aan die lig gebring, met een-duisend-189 Instagram-plasings per kilometer van die staproete, wat dit sewende op die wêreldranglys plaas. Dit is in vergeleke met die wêreld se besigste staproete, Berg Kinabula in Maleisië, met meer as 22-duisend Instagram-plasings per kilometer. Die Inca-staproete na Machu Picchu in Peru is in die tweede plek met ses-duisend-723 plasings.
Intussen was vanjaar se Sweefspoor-welsynsuitdaging in Kaapstad ‘n reusesukses wat meer as een-miljoen-rand vir verskeie liefdadigheidsorganisasies ingesamel het. Deelnemers het Platteklip-ravyn teen Tafelberg 716 keer uitgeklim. Vanjaar se begunstigdes sluit in Wildernis Soek-en-Redding, Vrywillige Veldbranddienste, Ndihluthi, Abalimi Bezekhaya en Funda Kunye, wat elk 10-persent van die bedrag ontvang. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat meer as ‘n miljoen-rand ingesamel word.
# ‘n Voormalige meestersgraadstudent van die Universiteit van die Vrystaat, Arran Wood, is met die Corobrik Nasonale Studente-argitektuurtoekenning vereer. Dit is vir sy projek getiteld Spectral Flesh – Remembrance, wat Suid-Afrika se vergete kerngeskiedenis ontbloot. Die belangrikste universiteite in die land het agt finaliste – hulle beste meestersgraadstudent in argitektuur – gekies om aan die toekennings deel te neem. Wood sê hy is dankbaar vir die blywende erkenning wat die toekenning vir sy loopbaan bied.
# Scottburgh-strand het sy nuwe muur met seekuns deur die plaaslike graffiti-kunstenaar Giffy Duminy verwelkom. Hy het in opdrag van The Ocean Festival ‘n lewende muurskildery geskep wat Turner-sonkorale, gestreepte anemone en tier-anemone uitbeeld. Duminy, wat bekend is vir sy realisme en lewendige styl, het foto’s van sy skubaduik in die Aliwal-skol beskermde marienegebied gebruik. Die muurskildery beeld die fassinerende plaaslike seelewe uit.
# En, Olimpiese Spele: ʼn Ingenieurstudent aan die Wits-universiteit, Harry Saner, het vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse skermer in byna twee dekades wat op die Olimpiese Spele in dié sport sal meeding. Hy het in 2010 as negejarige seun begin om skermkuns te beoefen en is slegs die tweede Suid-Afrikaner sedert 2008 wat vir die Olimpiese Spele kwalifiseer. Juliana Barrett het wel in 2016 vir die Spele in Rio gekwalifiseer, maar kon nie deelneem nie weens die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee se keuse-beleid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….