Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê hy het sy pogings verskerp om die begunstigdes van die stad se verkoopbare eenhede, nuwer subsidies en ou GOP-huise te vind wat nooit titelaktes ontvang het nie. Gister het ‘n 102-jarige vrou van Maitland haar titelakte ontvang. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, sê hulle doen alles moontlik om 17-duisend begunstigdes van baie ou behuisingsprojekte op te spoor wat nog hul titelaktes moet kry.
# ‘n Meestersgraad-student van die Walter Sisulu-universiteit, Siphosethu Mase, het die derde plek behaal in die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se Continental Essay-kompetisie. Deelnemers het vanjaar opstelle geskryf oor die onderwerp “Die bemagtiging van verbruikers deur standaardisasie om die reg te verkry tot gehalte goedere en dienste”. Mase se artikel handel oor ekonomiese uitdagings en die mislukkings van die gesondheids- en voedselsekerheidsektore. Mase, wat ‘n honneursgraad in Inklusiewe Onderwys het, sê sy hoop om kritiese denke te inspireer.
# ‘n Deeltydse dosent in Teaterkuns en alumnus van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Bongani Masango, boei gehore met sy vertoning in die prikkelende en kragtige produksie, Dark Noon. Die opvoering bied ‘n hervertolking van Amerika se koloniale verlede en fokus op die wapens, geweld en uitbuiting wat met die berugte Wilde Weste verbind word. Dark Noon is tot die sewende Julie by die St Ann Warehouse in New York te sien.
# ‘n PhD-student aan die Universiteit van die Witwatersrand, Pedro Ornelas, het die gesogte John Kiel-beurs van die Internasionale Vereniging vir Optika gewen. Hy is een van 72 studente wêreldwyd wat die toekenning ontvang het. Die universiteit sê Ornelas toon potensiaal in die veld van optika en optiese ingenieurswese. Die beurs van 190-duisend-rand stel hom in staat om verdere navorsing te doen oor die eienskappe van lig en kwantumligbronne en maniere te vind om dit weerstandig teen omgewingsinvloede te maak.
# En ten slotte: Kaapstad se Ontspannings- en Parke-departement en sy biblioteke het ‘n winterprogram vir die skoolvakansie saamgestel. Verskeie geriewe gaan verskillende binnens- en buitenshuise programme vir kinders in die vakansie aanbied. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid , Patricia van der Ross, sê die wye reeks bedrywighede sluit in ‘n speletjiesdag, kuns en huisvlyt, sportgeleenthede, ‘n rolprentkarnaval en ‘n skaakkompetisie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….