Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Disfrutar-restaurant in Barcelona is eerste op 2024 se lys van die wêreld se 50 beste restaurante. Hy word geloof vir sy kombinasie van briljante, verbeeldingryke disse, onoortreflike tegniese vaardighede en vrolike aanbieding. Asador Etxebarri in Atxondo naby die Spaanse hawestad Bilbao is tweede. Table by Bruno Verjus in die Franse hoofstad, Parys, is derde en Diverxo in Madrid vierde. Maido in Lima is vyfde, en een van Peru se drie restaurante wat die lys van 50 gehaal het. La Colombe in Kaapstad is 49ste.
# ‘n Student van die Universiteit van Venda, Vhuthu Miranda Tshilengo, woon ‘n internasionale studenteprogram in Dubna, Rusland by. Die program van drie-weke is gemik op jong, talentvolle mense om by die Gesamentlike Instituut vir Kernnavorsing aan te sluit. Dit is ook bedoel om bewustheid oor studie- en wetenskaplike navorsingsgeleenthede te skep. Tshilengo is ‘n meestersgraadstudent in Fisika en haar navorsingsprojek is Radio-sterrekunde.
# Rhodes-universiteit is besig om sy 120ste bestaansjaar, bekend as RU120, te vier. Die gewese SABC-nuusleser en kultuur-ikoon, Noxolo Grootboom, is gekies as een van die handelsmerk-ambassadeurs en gesigte van RU120. Die universiteit het in 2021 ‘n eredoktorsgraad aan Grootboom toegeken vir haar groot bydrae tot nasionale trots en kultuur deur haar joernalistieke loopbaan. Die universiteit sê dis net paslik dat Grootboom haar stem by hierdie veldtog voeg en 120 jaar van uitnemendheid by Rhodes weerspieël.
# WinterHoop, ‘n veldtog wat al 20 jaar aan die gang is, se jaarlikse veldtog het begin om noodsaaklikhede aan behoeftiges in die wintermaande te verskaf. Die hoofdoel van die veldtog, Gee Hoop, Gee Warmte is om na kwesbare gemeenskappe uit te reik en toe te sien dat mense die benodighede het om in die wintermaande warm te bly. Dit sluit in klere, voedsel en geld. WinterHoop het verlede jaar twee-duisend komberse, 286 swartsakke vol klere en drie-duisend-800 kospakkies geskenk.
# En padwedlope: Altesaam 66 polisiebeamptes van Gauteng gaan Sondag aan die Comrades-marathon in KwaZulu-Natal deelneem. Die wedloop begin by die Durbanse stadsaal en eindig by die Scotsville-perdewedrenbaan in Pietermaritzburg. Dit strek oor 85,91 kilometer. Die provinsiale polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê die bestuur moedig voortdurend fiksheids- en welstandsprogramme aan om te verseker beamptes is deurentyd fiks en geestelik skerp om burgers te dien en te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….