Goeie Nuus
BULLETIN 5 Junie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die gewilde Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap maak gereed om sy 50ste bestaansjaar te vier. Suid-Afrika se oudste en mees diverse kunstefees sal meer as 200 geleenthede aanbied. Dit sluit die produksie, 1789, in wat handel oor vryheid, gelykheid en broederskap. Die legendariese Sipho “Hotstix” Mabuse en bekroonde afro-soul jazz-kunstenaar, Mandisi Dyantyis, is van die musiekgaste. Die fees duur van 20 tot 30 Junie.
# Die Universiteit van Kaapstad word steeds beskou as die beste in Suid-Afrika op die jongste QS Wêreld-universiteitsranglys. Die universiteit is 171ste op die lys, gevolg deur Wits op 267, Universiteit Stellenbosch op 296 en die Universiteit van Pretoria as nommer 354. Die wêreld se top-universiteit is die Massachusetts Institute of Technology in Amerika, gevolg deur Imperial College London en die Oxford-universiteit, albei in Brittanje.
# Die Universiteit van Johannesburg se Kunsgalery gaan van Saterdag tot volgende Woensdag ‘n uitstalling aanbied met die titel Afrika-helde. Die uitstalling in vennootskap met Rainbow Nation Comics en Afro Geek sal die superheld-konsep na plaaslike gehore bring, met die klem op unieke storievertelling wat in Afrika-waardes gewortel is. Die galery moedig mense aan om die boeiende kunswerke te besigtig en vir die kinders om ‘n verskeidenheid bedrywighede te geniet, insluitend ‘n springkasteel, superheld-gesigverf en strokiesprent-stalletjies.
# Tien studente van oral in die land is die tweede groep beursontvangers wat baatvind by Mej Suid-Afrika, Natasha Joubert, se opvoedkundige veldtog, die Natasha Joubert Collective. Dit is in vennootskap met HyperionDev en die rekenaar hardeware-maatskappy ASUS. Die veldtog bied tien koderingsbeurse aan uitgesoekte studente om aan te sluit by ‘n omvattende ses-maande volstapel-webontwikkelaar oefenkamp. Ses van die ontvangers is van Gauteng, en die ander kom van die Wes-Kaap, die Noord-Kaap, die Vrystaat en Limpopo.
# En, Netflix se Baby Reindeer, die aktrise Harriet Dyer, en die Australiese reeks Colin From Accounts is van die wenners op die eerste Gotham TV-toekennings in New York. Baby Reindeer het die Deurbraak-beperkte reeks-toekenning verower en Dyer van Colin From Account is bekroon vir haar uitstaande vertoning in ‘n komediereeks. Die Australiese reeks het ook die toekenning vir ‘n deurbraak komediereeks opgeraap terwyl Andrew Scott van Ripley bekroon is vir sy uitstaande vertoning in ʼn beperkte reeks. Die prys vir deurbraak niefiksie-reeks het aan Jerrod Carmichael Reality Show gegaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….