Goeie Nuus
BULLETIN 30 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika is steeds die voorloper in toerisme in Afrika en is eerste op die ranglys in die Afrika-streek van die 2024 Reis- en Toerisme-ontwikkelings-aanwyser. Die lys van die Wêreld Ekonomiese Forum dek 119 ekonomieë en meet ‘n stel faktore en beleide wat die volhoubare en veerkragtige ontwikkeling van die toerismesektor moontlik maak. Suid-Afrika is 55ste op die lys van 119 lande en het sewe plekke opgeskuif. Suid-Afrika het verlede jaar byna 8,5-miljoen internasionale toeriste verwelkom, waarvan 5,4-miljoen van Afrika was.
# Doktor Siphamandla Mncube van die Universiteit van Suid-Afrika het die Rektorstoekenning vir uitnemende navorsing ontvang. Die navorsing handel oor die Vierde Nywerheidsrevolusie en digitalisering, met spesifieke verwysing na inligting- en kommunikasietegnologie wat e-leer bevorder. Mncube is die senior lektor van die Departement van Inligtingswetenskap en is onlangs ook aangestel as redakteur van die pas ontwikkelde vaktydskrif, African Journal of Information Science, Fine Arts and Speech Studies.
# Die Universiteit van Pretoria se Departement van Politieke Wetenskap het onlangs ‘n openbare lesing aangebied waar professor Toyin Falola vereer is vir die uitwerking van sy werk in Afrikastudies. Sy werk het bygedra tot ‘n insigvolle begrip van Afrika se geskiedenis, kultuur en politiek. Falola se werk ondersteun die belangrike betoog dat Afrikane moderniteit moet herdefinieer om hulle besondere ervarings en sienings van die wêreld te verteenwoordig.
# Bouwerk aan die nuwe Mediclinic in Yorkstraat, George, in die Wes-Kaap verloop volgens plan en sal na verwagting vroeg in 2026 voltooi wees. Die hoofbestuurder, Kassie Karstens, het bevestig die hospitaal van meer as ‘n miljard-rand sal die bestaande geriewe heeltemal vervang. Die nuwe hospitaal sal beskik oor 231 beddens, ‘n daghospitaal met 20 beddens, en drie teaters, en huidige vermoënsprobleme verlig. Toekomstige uitbreidings kan 72 beddens byvoeg sonder die ontwrigting van huidige bedrywighede. Die hospitaal sal ook George se eerste harteenheid insluit.
# En, Caravaggio se laaste skildery, Die Martelaarskap van Sint Ursula, lok rekordskares by die Nasionale Gallery in Londen as deel van sy 200ste bestaansjaarvieringe. Die skildery is die laaste selfportret van die kunstenaar; die korthaar figuur agter die martelaar, met ‘n grimmige, doodse kleur wat in die niet inkyk hoewel sy misvormde gesig verberg is. Die kurator, Francesca Whitlum-Cooper, sê Caravaggio maak die kunswerk baie intiem, baie wreed en baie persoonlik op ‘n manier wat baie ander kunstenaars van daardie tyd nie gedoen het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….