Nuus 14:00
BULLETIN 15 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula raak emosioneel ná die ANC se hofoorwinning oor sy kandidatelyste
# Twee skepe sink nadat hul naby die Seestraat van Hormoes deur missiele getref is
# En krieket: Breetzke vervang Stubbs in die Protea-groep vir die tweede toets teen Australië
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het emosioneel geraak nadat die Konstitusionele Hof ten gunste van die party beslis het oor 181 kandidate wat uitgesluit is van die verkiesingsproses. Die hof het gelas hulle moet by die plaaslike regeringsverkiesingsproses ingesluit word. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie gesê die uitspraak bevestig die reg van die ANC en sy kiesers. Hy het individue en politieke partye bedank wat die ANC ondersteun het deur die proses:
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging vra menslike hulpbron-praktisyns intussen om te help om kundige beroepslui en tegniese kenners na plaaslike regering te lok. Uitvoerende hoof Sithole Mbanga sê die land se beste talent moet wees waar dit dadelik nodig is. Hy sê munisipaliteite is waar beleid en die daaglikse lewe ontmoet en waar water, sanitasie, paaie, elektrisiteit, woongebiede en plaaslike ontwikkeling vir gemeenskappe werklikheid word. Mbanga sê elke belegging, sake-uitbreiding en infrastruktuur-projek kry uitdrukking binne ‘n munisipaliteit:
# Transnet Port Terminals voer gesprekke met die privaat sektor oor twee groot vennootskappe om vermoë uit te brei en doeltreffendheid te verbeter. Uitvoerende hoof Jabu Mdaki sê die projekte fokus op die Ngqura-mangaan-uitvoerdeurgang in die Noord-Kaap en die Richardsbaaise terminaal vir droë grootmaatvrag in KwaZulu-Natal. Die afdeling belê jaarliks sowat vier-miljard-rand in toerusting en het in die huidige boekjaar ‘n inkomsteverhoging van ses-persent aangeteken. Transnet beplan ook verdere vennootskappe op terminale wat onderpresteer, terwyl bedryfsprobleme op die Durbanse terminaal aangepak word nadat nuwe tegnologie aangebring is.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Houerskip en vragskip het die afgelope 24 uur in die omgewing van die Seestraat van Hormoes gesink nadat dit in afsonderlike voorvalle deur projektiele getref is. Bronne in maritieme veiligheid sê ‘n klein houerskip, die GFS Pride, wat onder die vlag van Singapoer vaar, het gesink terwyl dit deur die roete gevaar het en die Cape Dao, wat onder die vlag van Antigua en Barbuda vaar, het naby die seestraat gesink. Iran het die afgelope tien dae sy aanvalle verskerp weens Amerika se versperring van sy hawens en strenger sanksies wat verlede maand ingestel is.
# Krieket: Matthew Breetzke kan sy derde toets vir Suid-Afrika speel in die tweede kragmeting met Australië in Gqeberha. Hy vervang Tristan Stubbs in die groep wat die eerste toets in Durban verloor het. Breetzke het nog nie in toetse vir die Proteas uitgeblink nie, maar het wel beïndruk in eendagwedstryde vir die land, onder meer ’n honderdtal in verlede maand se eerste eendagwedstryd teen Australië in Durban. Ryan Rickelton sal as paaltjiewagter oorneem, hoewel Kyle Verreynne steeds deel van die groep is. Die tweede toets begin Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-62-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-152-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….