Goeie Nuus
BULLETIN 8 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad-Toerisme sê die stad se koffie-aanbod weerspieël die lewendige kultuur wat die Moederstad spesiaal maak. Die Amerikaanse kookkunstydskrif, Food and Wine, het Kaapstad op sy 2024 top tien-lys van stede vir koffie opgeneem. Die ranglys is bepaal deur meer as 180 koskenners. Die uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, Enver Duminy, sê die erkenning bewys die stad se koffiegemeenskap se passie, kreatiwiteit en veerkragtigheid:
# ‘n Vakkundige in rekenaarwetenskap aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Michael Moeti, is gekies vir die 2024-’25 Fulbright-program in Amerika. Dit is gemik op pogings om samewerking by Amerikaanse instellings van hoër onderwys te bevorder. Vakkundiges van buite Amerika word uitgenooi om vir ʼn semester of ʼn volle jaar by Amerikaanse kolleges en universiteite te werk. Moeti sal by die Bluegrass gemeenskaps- en tegniese kollege in Kentucky betrokke wees.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal sê vroue verteenwoordig 65,76-persent van alle gegradueerdes by vanjaar se herfsgradeplegtigheid en dit benadruk sy verbintenis tot geslagsgelykheid. Alteaam sewe-duisend-795 studente gaan dié maand tydens 16 seremonies op die Westville-kampus se sportsentrum hulle grade ontvang. Altesaam 414 gaan cum laude gradueer, waarvan 69,57-persent vroue is. Die universiteit sê hy is trots om een van die mees hervormde instellings in die land te wees.
# Die Goue Bal-trofee wat die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona in 1986 se Wêreldbekertoernooi verower het, gaan volgende maand opgeveil word. Die toekenning wat glo gesteel is, het in 2016 weer te voorskyn gekom uit ‘n privaat versameling wat in Parys opgeveil is. Maradona, wat in 2020 oorlede is, het die toekenning verower nadat hy Argentinië in Mexiko na ‘n Wêreldbeker-titel gelei en waartydens hy vyf doele aangeteken het. Dit is die eerste Goue Bal wat opgeveil word.
# En, laastens: FlySafair herdenk vandag sy tiende bestaansjaar met ‘n spesiale verkoping van 50-duisend sitplekke vir net tien-rand op uitgesoekte binnelandse vlugte. Die verkoping is slegs op sy webtuiste beskikbaar, wat na verwagting swaar verkeer sal dra, met ‘n verwagte meer as een-miljoen besoekers. Die redery het ‘n aanlyn wagkamer ingestel om die toestroming te hanteer. Kliënte sal slegs tien minute beskikbaar hê nadat hulle op die webtuiste land, om hulle kaartjies te bespreek. Die FlySafair-toepassing is steeds beskikbaar vir gewone besprekings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….