Nuus 14:00
BULLETIN 22 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Aucamp sê die privaat sektor sal help om plaaslike bek-en-klouseer-entstof te vervaardig
# Rugby: Esterhuizen voer die Springbokke aan teen Australië
# En ‘n ekonoom sê die Russies-Oekraïnse oorlog veroorsaak Oktober se verhoogde brandstofpryse
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, sê kwalifiserende privaat ondernemings sal toegelaat word om die Landbounavorsingsraad se intellektuele eiendom te gebruik om sy entstof teen bek-en-klouseer in grootmaat te vervaardig. Die raad het die toegewing eenparig goedgekeur. Hy sê dis doeltreffend teen plaaslike stamme met een jaarlikse dosis, maar hy kan dit nie in grootmaat vervaardig nie. Aucamp sê die vennootskap sal help om vee te beskerm en voedselsekerheid te beveilig:
# Die organisasie Suid-Afrikaanse Vroue in die Boubedryf en Bou-omgewing veroordeel alle vorms van intimidasie, teistering, dreigemente of mishandeling van vroue. Beeldmareriaal toon hoe die Zimbabwiese sakeman Lawrence Mudzinganyama ‘n groep vroue dreig nadat hul sy toenadering verwerp het in ‘n luukse restaurant in Sandton, Johannesburg. Mudzinganyama het hom aan die polisie oorgegee en is op waarskuwing vrygelaat. Die organisasie versoek die betrokke staatsinstellings om duidelikheid te verskaf oor kontrakte wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap en ander openbare instellings toegeken het aan ondernemings wat met Mudzinganyama verbind word.
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers steun die doelwit om verhogings in mediese skemabydraes so laag moontlik te hou, maar beklemtoon dit kan nie net deur bydrae-riglyne bereik word nie. Die Raad op Mediese Skemas het aanbeveel verhogings in bydraes vir die 2027-voordeeljaar moet op 3,8-persent gegrond wees. Besturende direkteur Katlego Mothudi sê gesondheidsorgverskaffers en groot hospitaalgroepe bepaal tans grootliks die pryse, terwyl mediese fondse en uiteindelik lede die koste moet dra:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het 13 veranderings aangebring aan sy opdrafspan vir Sondag se eenmalige toets teen Australië in Perth. Die senter André Esterhuizen is kaptein en net die slot Eben Etzebeth en die vleuel Ethan Hooker bly oor van die span vir die laaste toets teen die All Blacks. Jan-Hendrik Wessels, Zachary Porthen en Johan Grobbelaar is die nuwe voorry en die res van die voorspelers is Etzebeth, Franco Mostert, Paul de Villiers, Elrigh Louw en Marco van Staden. Herschel Jantjies en Handré Pollard is die skakelpaar.
# Finansiële nuus: Die ekonoom Thabi Leoka sê motoriste kan volgende maand rekordhoë brandstofpryse verwag. Syfers van die Sentrale Energiefonds toon die prys van 95-oktaan loodvrye petrol kan met twee-rand-78 tot 29-rand-70 styg. Dit oortref die vorige rekord van 28-rand-6-sent in Junie. Die groothandelprys van diesel kan 33-rand-5-sent per liter bereik. Die verwagte stygings word toegeskryf aan ontwrigtings weens die Russies-Oekraïnse oorlog. Leoka waarsku hoër vervoerkoste sal huishoudings se beskikbare inkomste verder onder druk plaas en inflasie opjaag. Die prys van Brent-ruolie sal na verwagting uiters wisselvallig wees weens voortslepende mark-onsekerheid.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-987-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….