Goeie Nuus
BULLETIN 7 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Statistiek Suid-Afrika se jongste verslag toon ‘n toerismesektor wat sterk groei, met internasionale aankomste van Januarie tot Maart wat op 2,4-miljoen staan. Dit is ‘n toename van 15,4-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Afrika lei die toestroming, met 1,8-miljoen toeriste uit Zimbabwe en Ghana. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, skryf die groei uit Ghana toe aan ‘n visum-kwytskeldingskema en geteikende bemarkings-veldtogte. Sy sê ander streke, wat insluit die Amerikas, Europa, Asië en die Midde-Ooste, dra ook by tot die uitbreiding van die sektor. Dit bewys Suid-Afrika se blywende aantrekkingskrag vir globale reisigers.
Die Wes-Kaapse regering doen intussen ‘n beroep op organisasies wat toerisme-ontwikkelingsprojekte of -programme instel, om deur die Toerisme-groeifonds aansoek te doen vir befondsing. Vier-miljoen-rand is beskikbaar vir vanjaar se suksesvolle aansoekers. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê die fonds sal finansiële ondersteuning bied aan ontwikkelingsprogramme en -projekte wat toerisme-besienswaardighede en -ondernemings in die Wes-Kaap sal bevoordeel:
# Die Suid-Afrikaanse Weermag beskryf die inwyding van die Verdedigings-kunsmatige Intelligensie-navorsingseenheid as ‘n belangrike mylpaal. Dit word gelei deur die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Mondli Gungubele, en is van stapel gestuur om K-I by verdedigings-operasies in te skakel. As die vierde spilpunt van die Kunsmatige Intelligensie-instituut van Suid-Afrika, stem die stigting van die eenheid ooreen met globale neigings in militêre K-I-gebruik. Besprekings op die Nasionale K-I-spitsberaad het klem geplaas op planne vir regulering om nasionale beleid aan te help en verantwoordelike instelling van K-I te verseker.
# Dansers van die Universiteit van Fort Hare het beïndruk op die eerste deel van die Nasionale Kampioeneliga in Durban. ʼn Student, Wanzi Maxhobi, en Lorenzo Swartbooi, wat in 2023 gegradueer en Suid-Afrika in November op die Wêreldkampioenskap in Duitsland sal verteenwoordig, het die topprys gewen. Die danspare Phumelela Mqalo en Thandeka Mhlanga, en Lonwabo Ndzundzu en Nontando Tsheleza, is onderskeidelik derde en sesde in die kategorie vir opkomende sterre. Die Nasionale Kampioeneliga is een van drie wat dien as kwalifiseerders vir volgende jaar se Wêreld-beroepstandaard-kampioenskap.
# En ten slotte: Kindness Like Confetti beywer hom vir die beëindiging van armoede vir 500 jong meisies in Gauteng as deel van sy Pad Princess-projek. Dié projek bied ‘n alternatiewe herbruikbare en bestuurbare menstruasie-pakket vir jong meisies in landelike gebiede met beperkte toegang tot vars water en skoon toilette. Twee laerskole in die provinsie is reeds vir die projek geïdentifiseer. Claire Duval van Kindness Like Confetti sê hulle hoop om met verskeie maatskappye saam te werk om dié lewensveranderdende doelwit te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….