Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het sy vlugte tussen Johannesburg en Perth hervat, wat sy terugkeer beteken na roetes oor die Indiese Oseaan, ná die Covid-pandemie. Die vlugte sal jaarliks in albei rigtings tussen Johannesburg en Perth, 40-duisend meer passasiers vervoer, met Airbus A-3-40-300’s. Die vlug van nege-en-‘n-half-uur sal drie keer per week, op Dinsdae, Donderdae en Sondae vanaf Johannesburg vertrek, met vlugte vanaf Perth, wat op Maandae, Woensdae en Saterdae sal vertrek.
# Die uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap, Thsepo Kgobe, sê hulle gaan ‘n produk skep wat spesifiek gemik is op mense met gestremdhede, met ‘n herverbindtenis tot die verbetering van die stelsel om universele toeganklikheid te verseker. Die woordvoerder van Gautrein, Albi Modise, sê die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging verskaf mobiliteits- en oriënteringsopleiding op die stelsel vir siggestremde studente wat kieries gebruik:
# Die Stad Kaapstad sê sedert die 2019/2020-boekjaar het 14-duisend-547 werklose inwoners ‘n inkomste verdien. Dit is deur korttermyn-werksgeleenthede in die stad se Omgewingsbestuurs-departement deur die Uitgebreide Openbarewerke-program. Die stad sê hy het 32-miljoen-rand in hierdie werksgeleenthede belê. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die werkers word byvoorbeeld ingespan om indringerspesies uit natuurreservate te verwyder en seker te maak vaste afval word uit vleilande geneem.
# Die adjunkminister van Vervoer, Lisa Mangcu, deel vandag meer as 360 fietse uit aan leerders in die Enoch Mgijima- en Intsika Yethu plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap. Sy word vergesel van die adjunkminister van die Departement vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede in die Presidensie, Nokuzola Gladys Tolashe. Dis deel van die departement se Shova Kalula-fietsverspreidingsprogram wat in 2001 as proefneming ingestel is. Die doel was om vir arm huishoudings te verbeter. Meer as 100-duisend leerders het tot op hede hieruit gebaat.
# En ten slotte: Die bekroonde aktrise, Nicole Kidman, is vereer met ‘n loopbaan-toekenning van die Amerikaanse Rolprentinstituut. Die 56-jarige Kidman is die eerste Australiese akteur wat dié eerbewys van die instelling ontvang. Meryl Streep, Julie Andrews, Denzel Washington, Robert De Niro, Martin Scorsese en Steven Spielberg is reeds só vereer. Kidman het verskyn in rolprente soos Days Of Thunder, Moulin Rouge en Big Little Lies. Kidman sê dis ‘n voorreg om rolprente te maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….