Nuus 15:00
BULLETIN 13 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Internasionale regsfirma sê Suid-Afrika is steeds aanteklik vir buitelandse beleggers
# Geld wat huis toe gestuur word, kan Afrika se finansiële insluiting en ekonomiese groei ’n hupstoot gee
# En vier beskuldigdes in die aanval op ‘n boer van Noordwes laat vaar hul borgtogaansoek
# Die internasionale regsfirma Baker McKenzie sê Suid-Afrika bied aan buitelandse beleggers minder eienaarskaps-beperkings as talle lande met belangrike hulpbronne. Die firma het ‘n verslag saamgestel oor 20 lande en wys op kritieke minerale, energie en infrastruktuur. Sy vennoot vir Energie en Infrastruktuur in Johannesburg, Ryan Alho, sê die lok van beleggings hang af van betroubare, bekostigbare kragtoevoer, doeltreffende logistiek en bestendige regulering. Hy vra Suid-Afrika om te fokus op plaaslike vervaardiging, werkskepping en groter waarde-toevoeging tot sy mineraalbronne.
# Geld wat burgers wat in die buiteland woon en werk Afrika toe stuur, word ‘n belangrike befondsingsbron op die vasteland. Afrika het verlede jaar sowat 124,2-miljard-dollar in oorplasings ontvang, wat groter is as buitelandse hulp en beleggings. Die hoof van PayInc se span vir onmiddellike betalingstransaksies, Meera Sunker, sê mobiele geldoperateurs en meer bekostigbare oorgrensbetalings kan verdere ekonomiese geleenthede ontsluit. Sy sê die algemene vermindering van koste kan finansiële insluiting en belegging in Afrika bevorder:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Wendy Kaizer-Philander, is bekommerd oor 147,2-miljoen-rand wat aan die maatskaplike sekerheidagentskap SASSA toegeken is om 228 vakante poste te vul, maar nie gebruik is nie. Nasionale minister Dina Pule het in die Parlement onthul daar is 84 vakante poste in SASSA se streeks- en hoofkantore en 144 in plaaslike en distrikskantore. Kaizer-Philander sê inwoners wag intussen in lang rye en vertragings kom voor om maatskaplike toelaes te kry:
# Vier mans wat beskuldig word van die wrede aanval op ‘n boer van Noordwes, Donovan Marx, het hul borgtogaansoeke laat vaar in die Ventersdorpse Landdroshof. Die saak is tot 15 Februarie uitgestel. Die beskuldigdes sluit ‘n voormalige werknemer van Marx in. Die boer is verlede maand geskiet, gesteek en albei sy ore afgesny. Die vier staan tereg op onder meer aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Marx is gister uit die hospitaal ontslaan.
# Sokker: Amerika se Argentynse afrigter, Mauricio Pochettino, gaan na verwagting Manchester United se volgende breier word nadat Michael Carrick afgedank is. Dit volg op die Engelse klub se swakste begin ooit in ‘n Premierliga-veldtog waar hulle in hul eerste tien wedstryde slegs agt punte verdien en in die relegasie-sone beland het. Carrick, ʼn gewese kaptein, het United verlede seisoen na ʼn algehele derde plek gelei. Die 54-jarige Pochettino het in 2024 by Amerika aangesluit nadat hy spanne soos Tottenham Hotspur, Paris Saint-Germain en Chelsea afgerig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-330-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-892-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….