Goeie Nuus
BULLETIN 31 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Time Out het sy lys van die 20 Vriendelikste Stede ter Wêreld vir 2025 bekend gemaak, met Kaapstad wat ook op die lys is. Hierdie stede staan uit vir hul warmte, gasvryheid en verwelkomende gees. Die wêreldwye opname het bevind dat mense van Porto, Portugal, die vriendelikste is vergeleke met enigiemand anders ter wêreld. Porto was ook vierde vir skoonheid en 12de vir geluk. Bilbao in Spanje is tweede, Medellin in Colombië derde, Kaapstad vierde en Lagos in Nigerië vyfde.
# Die Noordwes-Universiteit het tien merkwaardige persone vereer tydens sy toonaangewende tweejaarlikse Alumni Uitnemendheids-toekenningseremonie in Pretoria. Persone soos die veteraan-akteur Hans Strydom, die Wêreldbeker-krieketster Tazmin Brits en die mediese ekonoom James Avoka Asamani is vereer. Strydom het die Lewensprestasie-toekenning ontvang vir sy baanbreker-bydrae tot Suid-Afrikaanse televisie en rolprente, asook sy onvermoeide voorspraak vir die regte van uitvoerende kunstenaars. Die universiteit sê almal wat vereer is, het ‘n blywende indruk in hul onderskeie veld gelaat.
# Twee navorsers aan die Universiteit van Pretoria, Lerothodi Leeuw en Muaaz Bhamjee, het wetenskap-geskiedenis gemaak toe hulle die deurbraakprys in noodsaaklike fisika verwerf het vir hul rol in die Europese Organisasie vir Kernnavorsing se ATLAS-proefneming in Switserland. Hul werk dra by tot die begrip van noodsaaklike vrae oor donker stowwe, kragte en die heelal, deur die opknapping van die Groot Hadron-versneller se opspoorder. UP het onlangs by die SA-ATLAS-groep aangesluit, wat Suid-Afrika se teenwoordigheid in wêreldwetenskap versterk. Leeuw sê die erkenning is ‘n uitstekende mylpaal vir navorsing in Afrika.
# SANParke Droë Streke het sy jaarlikse streektoekennings in die Mokale Nasionale Park in die Noord-Kaap gehou waar personeel se uitnemendheid, toewyding en spanwerk erken is. Daar is 48 toekennings uitgedeel in verskillende kategorieë soos kliëntediens, leierskap, veldwagter en lewensbydrae. JP Louw van SANParke sê die geleentheid het werknemers van Kgalagadi, Augrabies, Namakwa en Mokala Nasionale Park gevier wat voorbeelde is van die organisasie se toewyding aan bewaring, toerisme en gemeenskapbetrokkenheid.
# En ten slotte: Die 15-jarige Owen Lineker van Plettenbergbaai het die Suid-Afrikaanse sowel as die Afrika-rekord verbeter op die junior nasionale diepsee-hengelkompetisie. Hy het ‘n rooi stompneus van 5,9-kilogram van ‘n boot naby die rotse aan die kus van Gqeberha gevang. Die vorige rekord was 4,9-kilogram. Rooi stompneus word naby rotsagtige riwwe aangetref en hengelaars prys hul veggees en is ‘n skaars vangs vir mense wat vir ontspanning hengel. Owen sê hy het nou sy oog daarop om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….