Eko-minuut 13:30
BULLETIN 31 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het die Kaapse Wynland-internasionale lughaweprojek in Kaapstad omgewingsgoedkeuring gegee. Die projek van agt-miljard-rand bestaan uit die uitbreiding van die lughawe buite Durbanville wat in ‘n aantal ontwikkelingsfases gedoen sal word. Die lughawe se besturende direkteur, Deon Cloete, sê die ontwikkeling sluit infrastruktuur in soos rolbane en parkeerplekke vir vliegtuie:
# Die 15-jarige Owen Lineker van Plettenbergbaai het die Suid-Afrikaanse sowel as die Afrika-rekord verbeter op die junior nasionale diepsee-hengelkompetisie. Hy het ‘n rooi stompneus van 5,9-kilogram van ‘n boot naby die rotse aan die kus van Gqeberha gevang. Die vorige rekord was 4,9-kilogram. Rooi stompneus word naby rotsagtige riwwe aangetref en hengelaars prys hul veggees en is ‘n skaars vangs vir mense wat vir ontspanning hengel. Owen sê hy het nou sy oog daarop om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.
# En SANParke Droë Streke het in die Mokale Nasionale Park in die Noord-Kaap sy jaarlikse streektoekennings gehou waar personeel se uitnemendheid, toewyding en spanwerk erken is. Daar is 48 toekennings uitgedeel in verskillende kategorieë soos kliëntediens, leierskap, veldwagter en lewensbydrae. JP Louw van SANParke sê die geleentheid het werknemers van Kgalagadi, Augrabies, Namakwa en Mokala Nasionale Park gevier wat voorbeelde is van die organisasie se toewyding aan bewaring, toerisme en gemeenskapbetrokkenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….