Goeie Nuus
BULLETIN 20 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer Imraan Coovadia se kortverhaal, Vast and Cool and Unsympathetic, is op die kortlys vir die internasionale letterkunde-prys vir wetenskapsfiksie in die kategorie Vreemde Taal. Dit is geïnspireer deur die sielkundige uitwerking op mense in Nairobi, Kenia, en Johannesburg wat aangestel is om ontstellende inhoud op Facebook deur te gaan en te klassifiseer. Coovadia is een van 27 skrywers op die kortlys uit meer as twee-duisend-400 voorleggings wat van reg oor die wêreld ontvang is. Die toekenningseremonie word op 6 November in Rusland gehou.
# Die 11de Afrika-vroueskrywersimposium in die Soweto-teater in Johannesburg het meer lees en kreatiewe skryfwerk, veral vir vroue, beklemtoon. Die geleentheid, wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur befonds is en deur Afro Arts SA aangebied is, het vrouestemme in die letterkunde gevier. Hoogtepunte het ingesluit die skrywer Alexandra Fuller se “No Voice No Choice“-lesing, poësie en geleenthede wat patriargie, rassisme en ongelykheid aanpak. Die woordvoerder Roshnie Moonsammy het aan Newzroom Afrika gesê opleiding in kopieskryf en uitgewery moet versterk word:
# ‘n Senior dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Simo Mthethwa, is een van slegs sewe navorsers wat ʼn gesogte beurs van die Uppsala Universiteit in Swede ontvang het deur die Afrika-Europa-groep vir uitnemendheid in wiskunde-navorsing. Die program beoog om navorsingsvermoë en nagraadse opleiding by Afrika-instellings te versterk terwyl dit terselfdertyd samewerking in belangrike akademiese velde tussen Afrika en Europa bevorder. Die universiteit sê Mthethwa se toekenning getuig van die navorsingsgehalte in Afrika-instellings.
# Vier ballet-geleenthede van twee dae elk wat meer as 200 jongmense gelok het, is die afgelope skoolvakansie in verskeie gemeenskappe in Kaapstad aangebied. Dis ʼn gesamentlike projek van Kaapstad se Direktoraat vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid en Kaapstad Stadsballet. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die uitreikprojek wat befonds is deur die Departement van Gemeenskap-, Kuns- en Kultuurontwikkeling wil ballet deur inklusiewe danservarings meer toeganklik maak vir die publiek:
# En ten slotte: Vanjaar se Diwali-vierings is verdeel tussen vandag en môre aangesien die Amavasya-tydperk oor twee-dae strek met verskillende sonsondergangtye. Stede waar die son ná 5.30 die middag sak, hou die Hindoe-viering vandag, terwyl ander dit môre sal vier. Die fees verteenwoordig die oorwinning van lig oor duisternis, goed oor kwaad en kennis oor onkunde. Tempels word versier met kleurvolle ligte en feestelike versierings. Die dag word ook gekenmerk deur die Hindoe-geleentheid Lakshmi Puja om die godin van voorspoed te vereer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….