Eko-minuut 13:30
BULLETIN 20 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty het ‘n strafsaak teen die Stellenbosch-munisipaliteit geopen en beskuldig amptenare dat hulle onwettige ontwikkelings in die Botmaskop-natuurgebied goedkeur. Die party sê die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, het toegelaat dat paaie, rioolpyplyne en ander infrastruktuur op die beskermde grond opgerig word sonder wetlik-vereiste omgewingsgoedkeuring. Karl Bodin van die party sê Wes-Kaapse inwoners verdien ʼn regering wat hulle bioverskeidenheid beskerm en nie vir vermeende wins vernietig nie:
# Kaapstad se gelukbringer van Water en Sanitasie, Manzi, besoek skole as deel van ʼn opvoedkundige veldtog om die jeug te help om die metro se nuwe waterprogram te verstaan. Die program beoog om Kaapstad se watervoorraad met 300-miljoen liter per dag aan te vul deur hergebruik, ontsouting en ander alternatiewe bronne. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê sedert Julie verlede jaar het 14 skole deur sang, dans en interaktiewe speletjies deelgeneem aan Manzi se lesse van 45 minute:
# En byna 80-persent van die wêreld se armes, 887-miljoen mense, woon in streke wat blootgestel word aan uiterste hitte, oorstromings en ander klimaatsgevare. Dit is volgens ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram en die Universiteit van Oxford, voor die COP30-klimaatberaad in Brasilië volgende maand. Suid-Asië en Afrika suid van die Sahara is verantwoordelik vir die grootste aantal arm mense wat in streke woon wat deur klimaatsgevare geraak word. UNDP sê armoede word vererger deur, en is gebonde aan die toenemend dramatiese gevolge van die klimaatnoodtoestand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….