Goeie Nuus
BULLETIN 6 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tafelberg-sweefspoormaatskappy vier hierdie maand sy 96ste verjaardag, wat beteken besoekers word reeds byna ‘n eeu lank na een van die nuwe sewe natuurwonders van die wêreld gelok. Meer as 32-miljoen mense het sedert 1929 die skilderagtige rit geniet. Die besturende direkteur, Wahida Parker, sê die mylpaal val saam met die “Local is Lekker”-spesiale program, wat afslagkaartjies aan Suid-Afrikaners bied. Sy beklemtoon die maatskappy gaan voor die feestyd voort met sy bewarings-, gemeenskapsopheffings- en toerisme-uitnemendheidsprojekte.
# Die première van Ubizo, ‘n rolprent deur ‘n mediese student aan die Universiteit van Kaapstad, Nandipha Zinhle Mthethwa, vind Sondag in Ster-Kinekor op die Victoria & Alfred-waterkant in Kaapstad plaas. Die fliek is deur persoonlike ervarings van verlies en voorvaderlike wysheid geïnspireer en Mthethwa het beweging, musiek en eksperimentele visuele elemente gekombineer as brug tussen Westerse medisyne en spirituele leiding. Mthethwa sê die prent se artistieke visie is ‘n verkenning van hartseer en pyn deur die poëtiese aard van die band tussen die spirituele en die fisieke.
# Twee dansers van die Noordwes-Universiteit, Tebogo Baas en Matlhogonolo Bodibe, is gereed om Suid-Afrika volgende maande te verteenwoordig op 2025 se Wêreld-danskampioenskap in Assen, Nederland. Hulle het hul plek in die Jeugkampioenskap se Latynse kategorie verseker na gereelde podium-verskynings en ‘n sterk vertoning in die kwalifiserende rondes. Die paar beskou hul keuse as ‘n geleentheid om die standaard van Suid-Afrikaanse dans buite die nasionale grense te demonstreer. Bodibe sê voorbereiding vir ‘n kompetisie soos die Assen-geleentheid is intens, aangesien dit daaglikse oefening vereis om tegniek, stamina en krag te verfyn.
# Twee-en-dertig skole van regoor Suid-Afrika is aangewys as finaliste in die Nasionale EduPlant-skooltuinkompetisie vir vanjaar. Hulle is op die kortlys van meer as 300 skole wat aan die begin van verlede jaar by die EduPlant-program aangesluit het. Hulle het omvattende opleiding in perma-kultuurpraktyke ontvang om hulle te help om hul eie groente, vrugte en kruie te kweek. Die 32 skole op die kortlys is uitgesonder vir die manier waarop leerders hul nuutgevonde kennis toegepas het om ‘n suksesvolle tuin te maak. Die wenners word môreaand tydens ‘n gala-geleentheid aangekondig.
# En ten slotte: Taylor Swift se vrystelling, The Official Release Party of a Showgirl, was die naweek boaan die wêreldloket-trefferlys. Die prent van 89-minute bied aanhangers agter-die-skerms-beeldmateriaal van Swift se 12de ateljee-album, The Life of a Showgirl. Paul Thomas Anderson se bekroonde One Battle After Another, met Leonardo DiCaprio in die hoofrol, het na die tweede plek teruggesak, met die nuweling Dwayne Johnson se R-gegradeerde sportdrama, Smashing Machine, derde. DreamWorks Animation/Universal se Gabby’s Dollhouse: The Movie, en New Line se The Conjuring: Last Rites voltooi die top-vyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….