Goeie Nuus
BULLETIN 2 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Nuwe laboratoriumnavorsing van die Universiteit Stellenbosch dui daarop dat rooibos die beweging van estrogeen in borskankerselle kan teenwerk. Estrogeen word dikwels beskryf as ‘n versneller van die groei van borskanker omdat baie borskankergewasse ontvangers het wat daarop reageer. ‘n Senior dosent in biochemie, Nicky Verhoog, sê omdat so baie vorms van borskankers sensitief is vir estrogeen, is dit betekenisvol dat rooibos moontlik kan help om die uitwerking te keer:
# Die Universiteit van Fort Hare gaan ‘n eredoktorsgraad in Handel aan een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde regsgeleerdes en gerekende sakeleier, advokaat Thandi Orleyn, toeken. Sy word erken vir haar uitnemende bydraes tot handel, die regte en maatskaplike geregtigheid. Sy was die eerste swart vrou om die Onafhanklike Bemiddelingsdiens van Suid-Afrika en die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie te lei. Volgens die universiteit het Orleyn se werk in die regte, verbruikersregte en gewoontereg ‘n blywende uitwerking op die Suid-Afrikaanse regsproses gelaat.
# Die Durban Girls Secondary School, verteenwoordig deur Mawande Makoba and Kadogo Teila, het die Durbanse Universiteit van Tegnologie se Superchef-kompetisie ‘n tweede keer gewen. Die eerste oorwinning was in 2023. Die kompetisie word aangebied deur die Departement van Voedsel en Voeding in samewerking met die universiteit se uitreikprogram vir skole. Die deelnemers moet ‘n tweegang-maaltyd beplan, voorberei en voorsit. Die doel van die kompetisie is om leerders aan te moedig om plaaslike en gesonde bestanddele te gebruik om die voedingsgehalte van die maaltye te verhoog.
# Die Namakwa Nasionale Park het deur korporatiewe maatskaplike beleggingsfondse vier sopkombuise in Soebatsfontein in die Wes-Kaap en omliggende dorpe heropen. Die sopkombuise is gesluit weens ‘n gebrek aan fondse en hulpbronne. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê hulle het geld bekom om noodsaaklike infrastruktuur en hulpbronne te kry om hierdie geriewe te heropen. Hy sê die kombuise sal weer gereelde maaltye verskaf en noodsaaklike ondersteuning bied aan voorheen benadeelde gemeenskappe:
# En ten slotte: Honderde unieke Cederbergse plekname gaan nou onthou word danksy die werk van die veteraan-kartograaf Peter Slingsby. Hy het pas sy boek bekendgestel: Cederberg – The Book, met sowat 500 name wat eers net in die omgangstaal bewaar is. Dit sluit name in soos Slangbosfontein, Vogelgesang en Jakkalskop. Slingsby sê name is noodsaaklik vir kulturele erfenis en mense se geskiedenis. Volgens hom beskerm die boek ‘n plek vir toekomstige geslagte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….