Eko-minuut 13:30
BULLETIN 2 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die DA in die Oos-Kaap het die voortdurende rioolbesoedeling van die onaktiewe Nursery-pompstasie in Aliwal-Noord ontbloot. Die party het onlangs ‘n oorsigbesoek aan die pompstasie gebring waar ongesuiwerde rioolafval gevind is wat regstreeks in die Oranjerivier vloei en stroomaf die Gariepdam ook besoedel. Marina van Zyl van die DA sê onbehandelde rioolafval is ‘n oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuurwet:
# Die GOOD-party sê hy ondersteun pogings waar munisipale verantwoordelikheid en betrokkenheid van die gemeenskap bevorder word, soos maniere om onwettige storting te pak en Kaapstad se openbare ruimtes skoon te hou. Anton Louw van die party sê die stad se jaarlikse lenteskoonmaak-veldtog is egter onsinnig gesien teen die agtergrond van sy strawwe skoonmaakheffing. Hy sê as die metro werklik die gees van die veldtog wil uitleef, moet daar begin word met sy begrotingsgebruike:
# En ten slotte: Die wêreldbekende primaatkenner en bewaringskundige, Jane Goodall, is op 91-jarige leeftyd dood. Sy is in Kalifornië aan natuurlike oorsake dood tydens ‘n toer in Amerika. Sy word beskou as die voorste kenner van sjimpansees. Tydens haar loopbaan van meer as 60 jaar het sy nie net grense vir vroue uitgebrei nie, maar ook die manier verander waarop wetenskaplikes diere bestudeer. Die Jane Goodall-instituut sê haar ontdekkings as ʼn etoloog, het ʼn omwenteling in wetenskap gebring, en sy het haar onverpoosd beywer vir die beskerming en herstel van die natuurlewe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….