Goeie Nuus
BULLETIN 29 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika het vyf internasionale Emmy-benoemings ontvang, die meeste ooit vir ‘n Afrika-land in een jaar. MultiChoice het vier benoemings gekry: vir Chasing the Sun 2, die Afrikaanse misdaaddrama Koek, die treffende dokumentêr School Ties en Catch Me a Killer, ‘n sielkundige riller wat aan Charlotte Hope in die rol van Micki Pistorius, ‘n benoeming vir die beste aktrise besorg het. Play Room Live is benoem in die feitlike en vermaaklikheidskategorie vir kinders. Die wenners word op 24 November in New York aangekondig.
# ‘n Jong rolprentmaker van Krugersdorp in Gauteng, Koketso Mlongo, het sy kinderjare-passie in ‘n dinamiese loopbaan omskep. Hy het Universal Dreamers Production gestig, as vrywilliger op stelle gewerk en slypskole bygewoon om sy vaardighede te verfyn. Mlongo is bekend vir sy storievertelling en kinematografie en het verskeie kortprente geskryf, geregisseer en vervaardig. Hy sê hy het ‘n diep passie vir storievertelling en is toegewyd om voortdurend te leer. Hy sê sy uiteindelike doel is om sy vaardighede te verfyn om ‘n top-rolprentmaker te word wat internasionaal erken word.
# Die burgemeester van George, Jackie von Brandis, en die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het die eerste George-fees 2025 – Kultuur, Kuns en Sport – van stapel gestuur. Die fees is gemik op die bevordering van inklusiewe gemeenskapsdeelname en jeug- en kunsontwikkeling, die stimulering van die ekonomie en die aktivering van die plaaslike ekonomie. Die woordvoerder van die George-munisipaliteit, Chantel Edwards-Klose, sê die fees sal van 13 tot 16 Desember op verskeie plekke plaasvind:
# Platinum North West TV het sy amptelike bekendstelling op 1 Oktober aangekondig, wat die begin van ‘n nuwe era van uitsaaiwese vir die provinsie inlei. Uitvoerende hoof, Jonathan Ramotsei, sê die gemeenskapsgesentreerde kanaal is toegewy aan die vermaak, inlig en inspirasie van gehore deur middel van inhoud wat die uiteenlopende kultuur, talent en stemme van die provinsie weerspieël. Hy sê hulle beoog om aan die voorpunt van rolprent- en televisie-ontwikkeling in die provinsie te wees:
# En ten slotte: Die driemalige Grammy-wenner Bad Bunny gaan in Februarie optree tydens die Super Bowl se 60ste rustyd-vertoning op die Levi-stadion in Santa Clara. Dit is die eerste keer dat die kletsrymer van Puerto Rico die Super Bowl-verhoog betree. Bad Bunny sê dit gaan nie oor homself nie, maar oor sy land se mense, kultuur en geskiedenis. Hy sluit aan by ‘n gevierde lys kunstenaars wat die geleentheid gekry het om by die NFL se grootste geleentheid op te tree, insluitend Michael Jackson, Beyoncé, Madonna en Bruce Springsteen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….