Goeie Nuus
BULLETIN 16 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy sal Vrydag Internasionale Mandeladag met gemeenskapsdien vier. Die vakbond sal by die Mahikeng Provinsiale Hospitaal in Noordwes wees waar bedrywighede ʼn skoonmaakprojek sal insluit. Hy sê benewens die fisiese skoonmaakproses, sal hulle teenwoordigheid by die hospitaal eensgesindheid toon met gesondheidswerkers en die pasiënte wat hulle dien. Die vakbond sê dit weerspieël die gees van ubuntu.
Die KwaZulu-Natalse LUR vir Menslike Nedersetting, Siboniso Duma, gaan intussen Vrydag by ‘n span aansluit wat huise vir vloedslagoffers in Illovo oprig. Hy gaan ‘n huis aan ‘n gesin oorhandig wat in Februarie se vloede geraak is toe hulle matriarg, Zondeni Gcabashe, dood is. Duma se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê al die gesinne wat deur die vloede geraak is, verdien huise:
# Vier akademiese personeellede van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-omgewing is gekies om deel te neem aan die gesogte Erasmus+ -personeeluitruilprogram in Turkye. Die internasionale uitruilprogram is ontwerp om akademiese vennootskappe te versterk, vernuwing in onderrig en navorsing aan te moedig en kulturele uitruiling te bevorder. TUT sê die keuse van die vier personeellede beklemtoon die instelling se voortgesette verbintenis tot akademiese uitnemendheid en globale samewerking.
# Die Stad Kaapstad sê Opera In Jou Buurt neem die ervaring van opera uit die tradisionele teaterruimte en maak dit vir gehore toeganklik in hulle eie omgewing. Die metro se Departement vir Gemeenskap, Kuns en Kultuur en die Kaapstadse Operakoor het die afgelope twee maande vier konserte gehou. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê inwoners in plekke soos Gugulethu en Woodstock kon ook die kuns en skoonheid van opera beleef:
En nog nuus uit Kaapstad is dat die metro sê die Dag van ‘n Duisend Geleenthede is een van talle projekte onder leiding van CapeBPO om streeksnywerhede ʼn hupstoot te gee. Tientalle jong Kapenaars het by die Athlone-stadion opgedaag vir die geleentheid waar werkers aan die oproepsentrumbedryf bekendgestel word. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Kaapstad is ʼn gewilde globale keuse vir baie van die wêreld se grootste maatskappye wat sakeprosesse uitkontrakteer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….