Goeie Nuus
BULLETIN 15 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Telegraph se lesers het Kaapstad weer aangewys as die beste stad ter wêreld in 2025 se Telegraph-reistoekennings. Meer as 20-duisend reisigers uit die Verenigde Koninkryk het deelgeneem en die sewende keer dié gesogte titel aan die Moederstad toegeken. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Kaapstad word geloof vir sy pragtige natuurskoon en opwindende stadslewe waarby min ander bestemmings kan kers vashou:
# Dit het sedert Maart goed gereën in die Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en lae temperature is onderbreek deur tye van sonskyn. Dit het dit moontlik gemaak vir die vroeë ontkieming van blomme, veral die gousblom-spesies. SANParke sê blomme het reeds in die Skilpad-gebied begin blom, terwyl gedeeltes van die viertrek-ekoroete, insluitend Wildeperdehoek en Kookfontein, reeds in volle en veelkleurige blom staan. Hy voeg by dat toestande gunstig is vir die blomtydperk tot diep in Augustus en selfs tot in September vanjaar.
# Die eerste Connie Chiume Internasionale Jeugrolprentfees skop hierdie Mandela-maand in Benoni, Gauteng, af en sal die ikoon se nalatenskap vereer deur jeugbemagtiging in die kunste. Die fees, met hulp deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting, sal meer as 500 kreatiewe mense huisves, nasionale premières van Uprize! en What Did You Dream?, asook ‘n reeks gedenklesings aanbied. Die Connie Chiume 67 Minute Mentorskaps-uitdaging, wat hervorming, nalatenskap en werklike geleenthede in die kreatiewe ekonomie vier, vind ook plaas.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê die gesogte ROTOCON Wynetiketontwerpkompetisie sal wêreldwye erkenning ontvang. Die erkende bedryfspublikasie Labels & Labelling gaan ‘n artikel oor die kompetisie in hul komende uitgawe publiseer. TUT sê die artikel sal op Labelexpo Europe 2025 versprei word, wat nie net ROTOCON se werk nie, maar ook dié van opkomende ontwerpers aan ‘n wêreldwye gehoor bekendstel. ‘n Derdejaarstudent in Geïntegreerde Kommunikasie-ontwerp, Mufaro Ncube, is die wenner van vanjaar se kompetisie met sy ontwerp, The Point.
# En ten slotte: Burano in Italië is aangewys as die wêreld se kleurvolste bestemming. Die kreatiewe ateljee, Berlew, het ‘n ontleding gedoen om te bepaal hoe kleurvol 125 van die wêreld se gewildste reisbestemmings is. Elke straat in Burano se geboue is van die mure en vensterrame tot die deure en hortjies in blou, rooi, groen en geel geverf. Chefchaouen in Marokko, wat in skakerings van blou getooi is, is tweede en Guatapé in Colombië derde. Willemstad in Curaçao en Havana in Kuba voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….