Goeie Nuus
BULLETIN 26 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Groep jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes is gekies om die 73ste vergadering van die Lindau Nobel-pryswenners in Duitsland by te woon. Die vergadering is ‘n geleentheid vir jong wetenskaplikes oor die wêreld heen om gesprekke met Nobelpryswenners te voer oor navorsing en algemene loopbaankwessies. Een van die jongmense, doktor Bambesiwe May, het aan Unisa studeer en het verlede jaar die gesogte toekenning as Suid-Afrikaanse Vrou in Wetenskap ontvang. May sê die besoek is ‘n fantastiese geleentheid vir haar loopbaan.
# Die Universiteit van Fort Hare spog met sy eerste groep gekwalifiseerde spraak- en taalterapeute. Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika het voorheen probleme met die leerplan uitgewys wat studente wat in 2018 vir die vierjaar-graad ingeskryf het, se graduering vertraag het. Die raad het uiteindelik die kursus betyds vir die 2024-gradeplegtighede goedgekeur en 13 studente het hul grade ontvang. Die universiteit sê die gegradueerdes se vaardigheid om in Xhosa te praktiseer, is ‘n groot stap vorentoe op die gebied van spraakterapie.
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekeningkundiges het met die Universiteit van Wes-Kaapland hande gevat en SAIPA se Werk-geïntegreerde Leerprogram vir Rekeningkundige Tegnici bekendgestel. Dié grensverskuiwende inisiatief is ontwerp om rekeningkunde-studente met praktykgerigte vaardighede en ondervinding toe te rus. ‘n Professor aan die instituut, Rashied Small, sê die uitdagings vir Suid-Afrikaanse jongmense om ná universiteit werksondervinding op te doen, is legio, maar programme soos dié pak die kwessie trompop.
# Aanhangers van Comic-Con Kaapstad, kan uitsien na ‘n onvergeetlike ervaring van popkultuur en speletjies, terwyl besoekers sal kan skouerskuur met bekendes van hierdie wêreld. Die trekpleister by vanjaar se geleentheid is die akteur Sean Gunn, bekend vir sy rolle in die Marvel Cinematic Universe en Guardians of the Galaxy. Lesley-Ann Brandt, geliefd vir haar vertolking van Mazikeen in die treffertelevisiereeks Lucifer, sal ook daar wees. Die fees duur van môre tot Maandag by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum.
# En om af te sluit: ’n Twaalf-snaarkitaar van die Beatles-sterre John Lennon en George Harrison sal volgende maand opgeveil word as deel van Julien’s Auctions se musiek-ikonegeleentheid. Die Framus Hootenanny– akoestiese kitaar is onlangs by ‘n huis buite Londen ontdek, nadat dit vir meer as 50 jaar vermis was. Die afslaersmaatskappy in Kalifornië sê die kitaar is in 1965 deur die groep gebruik, in opnames en uitvoerings van liedjies, insluitend Help, You’ve Got To Hide Your Love Away en It’s Only Love.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….