Nuus 14:00
BULLETIN 11 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die derde beskuldigde in die moord op DJ Warras laat vaar haar borgtog-aansoek
# ‘n Houthi-opmars langs die Jemeense kus bedreig Saoedi-Arabië se olie-uitvoere
# En rugby: Groot belangstelling in die toets tussen die Bokke en die All Blacks in Baltimore ondanks die duur kaartjies
# Die derde beskuldigde in die moord op die musikant Warrick “DJ Warras” Stock, Hlengiwe Buthelezi, het haar borgtogaansoek laat vaar in die Johannesburgse Landdroshof. Die 40-jarige word aangekla van moord en sameswering tot moord nadat Stock in Desember doodgeskiet is. Die staat beweer Buthelezi het besonderhede van sy voertuig gestuur aan haar medebeskuldigde en lewensmaat, Victor Majola, wat na bewering ook die meesterbrein is. Die selferkende moordenaar, Armando Pacula, is verlede maand tot 25-jaar tronkstraf gevonnis. Buthelezi sal volgende Vrydag saam met Majola in die beskuldigdebank verskyn.
# Activists and Citizens Forum waarsku die parlementêre ad hoc-komitee is bloot ‘n vermorsing van tyd en belastinggeld. Die komitee se mandaat is om bewerings van onbehoorlike invloed in die strafregstelsel en politieke inmenging deur die uitvoerende gesag te ondersoek. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê hul is nie verbaas die komitee sukkel om ‘n verslag op te stel nie en dit toon duidelik parlementslede op die komitee is onbevoeg:
# Die vervoervakbond UNTU sê Transnet se finansiële syfers vir die jaar wat op 31 Maart geëindig het, toon die staatsinstelling se omkeerstrategie begin vrugte afwerp. Transnet het vanjaar na-belasting-wins van 4,6-miljard-rand getoon, vergeleke met verlede jaar se verlies van 1,9-miljard-rand. UNTU se waarnemende hoofsekretaris, Atenkosi Plaatjie, sê ondanks Transnet se opwaartse neiging het dit nog nie volkome herstel nie:
Nuus uit die buiteland:
# Irans-gesteunde Houthi-magte het beheer oorgeneem van die Jemeense hawestad Mocha en beweeg verder af langs die Rooisee. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het hy verwag die oorlog met Iran sal ná die middeltermynverkiesing eindig. Jemeense militêre bronne sê die Houthi’s het hul posisie verder versterk in die suidelike toegang tot die Rooisee, die Bab el-Mandeb-seestraat, wat een van die wêreld se belangrikste skeepsroetes is. Die wêreld se grootste olie-uitvoerder, Saoedi-Arabië, is toenemend van dié roete afhanklik vandat die Seestraat van Hormoes gesluit is.
# Rugby: Daar is volgens berigte groot belangstelling in môre se toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Baltimore, Amerika, maar al 71-duisend kaartjies sal waarskynlik nie verkoop word nie. Dié eerste wedstryd tussen die aartsvyande op Amerikaanse bodem kom teen ‘n stywe prys, met die goedkoopste kaartjies wat verkoop vir gelykstaande aan een-duisend-800-rand vir die boonste vlak, en tussen drie- en sewe-duisend vir die laer vlak. Die BBP-gasvryheidsitplekke verkoop vir meer as 28-duisend-rand. Afskop is môreaand net na elf, Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-60-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-348-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….