Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 28 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Kuns en Ontwerp bied op die 16de van die maand ‘n grensverskuiwende konsert, Bolly-Jazz Symphonic Encounter, aan. Dis in samewerking met die Universiteit van Suid-Afrika se musiekstigting en die Mzansi Filharmoniese orkes. TUT sê die konsert wil verskillende kulture bymekaar bring met die energieke ritmes van Bollywood, die elegansie van jazz, en die ryk erfenis van Suid-Afrikaanse musiek.
# AVBOB se Pad na Geletterdheid-veldtog doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om laerskole te benoem om mobiele waentjie-biblioteke vol boeke van Oxford University Press te ontvang. Dis die derde jaar dat die twee maatskappye saamwerk om jongmense se intellek te ondersteun deur die mini-biblioteke te skenk. Vanjaar word 500 van hierdie biblioteke aan behoeftige laerskole en onderwysorganisasies sonder winsbejag geskenk. AVBOB se hoofbestuurder, Kebo Mosweusweu, sê die veldtog is op Suid-Afrika se geletterdheidskrisis gemik.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, sê die Akkedisberg-werkerstrust se werk is prysenswaardig. Tien jaar gelede het 20 begunstigdes, almal plaaswerkers, ʼn 30-jaar-huurooreenkoms vir 20 hektaar met die plaaseienaar gesluit en die Akkedisberg Boerdery gestig. Hulle het onmiddellik verskillende wynkultivars geplant. Vandag, tien jaar later, is hulle die trotse eienaars van Southern Treasures Pinotage 2021. Meyer sê al die landbou-grondhervormingsprojekte wat die departement befonds en ondersteun, is ʼn sukses.
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê hulle werk aktief aan die probleem van haweloosheid, deur middel van ‘n omvattende forum wat toegewyd werk met mense wat op straat woon. Die primêre fokus van die inisiatief is om mense suksesvol terug in gemeenskappe te integreer. Sophia Fanelo van die munisipaliteit sê hulle volg ‘n holistiese benadering, want dit is belangrik om by die grondliggende oorsake van haweloosheid uit te kom, om suksesvolle en permanente herintegrasie van haweloses te verseker.
# En laastens, Freddie Mercury se herehuis in die weste van Londen is in die mark vir byna 727-miljoen-rand. Die hoofsanger van Queen het die huis in ‘n stil enklawe in Kensington in 1980 gekoop, en dit beskryf as sy plaashuis in sentraal-Londen. Dit het onder meer ‘n dubbelhoogte-eetkamer, ‘n kleedkamer met spieëlmure, ‘n kroeg, ‘n biblioteek en ‘n Japanse tuin met fonteine. Sky News berig die huis is in 1907 in die Neo-Georgiaanse styl gebou. Mercury se beste vriendin, Mary Austin, het daar gewoon sedert hy dit aan haar nagelaat het met sy dood in 1991.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….