Nuus 15:00
BULLETIN 17 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor van bendes se werwing van minderjariges om moorde te pleeg
# Die Europese Kommissie stel ‘n verbod op sosiale media voor vir kinders onder 13
# En tennis: Die WTA-eindtoernooi word van volgende jaar in Charlotte aangebied
# Die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgala, sê bendes werf jongmense om ernstige misdade te pleeg, insluitend moord. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig bendes gebruik doelbewus jongmense omdat die strafregstelsel jong oortreders anders hanteer as volwassenes, wat hulle kwesbaar maak vir uitbuiting deur georganiseerde misdaadgroepe. Thobakgala sê bendes het gewoonlik ‘n duidelike rangorde en sekere jong oortreders kom uit gesinne met ‘n geskiedenis van bende-lidmaatskap:
# Die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika sê beleggings van sowat 440-miljard-rand sal die volgende dekade nodig wees vir transmissie-uitbreiding en netwerktoegang. Die onderneming berei voor vir volgende maand se Windaba 2026 in Kaapstad. Uitvoerende hoof Monde Bala sê die geld sal aangewend word om ongeveer 14-duisend-500-kilometer se hoëspannings-kraglyne en bykomende transformator-vermoë te befonds. Hy sê privaat beleggings en openbare-privaat vennootskappe is noodsaaklik om infrastruktuur-projekte vinniger af te handel en nuwe hernubare energieprojekte aan die nasionale kragnetwerk te koppel.
# Die eThekwini-munisipaliteit verwelkom Ethiopian Airlines se geskiedkundige besluit om vanaf 11 Desember vanjaar ‘n daaglikse regstreekse diens tussen Durban en Addis Abeba te begin. Passasiers en vragoperateurs tussen Durban en Oos-Afrika, asook ander internasionale bestemmings, moes tot dusver aansluitingsvlugte gebruik. Die munisipaliteit se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê die nuwe roete versterk KwaZulu-Natal se posisie as ‘n belangrike toegangspoort na Afrika:
# Die Europese Kommissie stel voor kinders onder 13 moet van sosiale media verbied word as deel van nuwe maatreëls om minderjariges aanlyn te beskerm. Kinders tussen 13 en 15 sal slegs onder toesig toegelaat word om mini-rekeninge te gebruik met beperkte funksies en ‘n tydsbeperking van een-uur per dag. Die plan sal ook platforms insluit vir die deel van video’s, aanlyn speletjies en kunsmatige intelligensie-kletsbotte. Die kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê dit volg nadat jongmense en gesinne kommer geopper het oor die uitwerking van aanlyn dienste.
# Tennis: Charlotte in Noord-Carolina, Amerika, is van volgende jaar tot 2029 die WTA-eindtoernooi se nuwe tuiste. Die laaste toernooi van die seisoen met die top-agt vroue-enkelspelers en dubbelspel-spanne word in die Spectrum-sentrum gespeel. Vanjaar s’n vind in November in Indian Wells, Kalifornië, plaas nadat die omstrede ooreenkoms om dit in Saoedi-Arabië aan te bied, ‘n jaar vroeër beëindig is. Die WTA se voorsitter, Valerie Camillo, sê hulle wil die Super Bowl van vrouesport skep en bestendigheid bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-315-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-328-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….