Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 13 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Dis vandag Wêreld-radiodag wat gevier word met die tema, Radio: A century informing, entertaining and educating. Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur sê die dag is ‘n geleentheid om radio as ʼn medium te vier. ʼn Woordvoerder van die organisasie, Tawfik Jelassi, sê Wêreld-radiodag is ook ʼn geleentheid om internasionale samewerking tussen radio-uitsaaiers te bewerkstellig en groot netwerke en plaaslike radiostasies aan te moedig om toegang tot inligting en vryheid van spraak te bevorder:
# Outisme Suid-Afrika bied weer sy jaarlikse kunsveiling, wat ‘n platform bied vir neuro-uiteenlopende kunstenaars, wat resorteer buite die dominante maatskaplike standaarde van sogenaamde “normale” neurokognitiewe funksionering, om hul werke ten toon te stel en ‘n inkomste te verdien. Die veiling word volgende week by die Nokuthula Spesiale Skool in Johannesburg gehou. Die veiling sal outistiese kunstenaars ondersteun en bewustheid kweek vir die Outisme-spektrum, wat een uit elke 68 kinders raak. Die kunswerke sluit stukke in deur Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Lynda Ballen en Alice van Jaarsveld, asook die bekende Britse outistiese kunstenaar, Stephen Wiltshire.
# Die Natuurlewe-en-omgewingsvereniging van Suid-Afrika het die Laerskool Amanzimtoti in KwaZulu-Natal aangewys as die ontvanger van die Eco-Schools-toekenning. Die pogings van graad vier tot sewe leerders, onderwysers en die eko-komitee, het erkenning ontvang aangesien die skool ‘n sterk verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid getoon het deur projekte soos die EnviroClub. Die skool het groentetuine by sy kurrikulum vir buiteluglesse gevoeg, asook voedingsopvoeding en gemeenskapsondersteuning. Meer as vier-duisend-500 skole landwyd neem deel aan die program.
# Die gewilde gratis strandjoga en koue water-swemtog in Kaapstad, maak gereed om sy 100ste byeenkoms te vier. Die gebeurtenis onder leiding van die joga- en bewusmakings-onderwyser, Michael O’Rourke, het ‘n beweging geword wat sorgsaamheid, beweging en die verjongende krag van die natuur bevorder. Die projek het ‘n gemeenskapsgees aangewakker onder honderde Kapenaars. Die deelnemers het ter herdenking van hierdie mylpaal ‘n “betaal dit vorentoe”-ingesteldheid gekies deur hande te vat met ‘n liefdadigheidsorganisasie toegewy aan die redding en rehabilitasie van diere in nood, Help a Paw.
# En, laastens, Atletiek: Die Universiteit van Johannesburg se para-atleet Yane van der Merwe, verteenwoordig die universiteit by die Wêreld-paralimpiese atletiek-Grand Prix by die instelling se Sportklub vir Studente met gestremdhede. Sy neem deel in die T44-klas in skyfwerp en gewigstoot. Van der Merwe is die Afrika- en Suid-Afrikaanse rekordhouer in die T44-skyfwerp met ‘n afstand van 31,66 meter. Die Grand Prix-kompetisie duur tot Donderdag en is deel van ‘n reeks para-atletiek-byeenkomste met sewe byeenkomste op vier vastelande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….