Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 October
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Studie deur die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie toon rooibostee bevat aansienlike hartgesondheidsvoordele. Navorsers het gevind die gereelde inname van rooibostee, veral die groen variëteit, verbeter kardiovaskulêre funksie. Navorsers het gevind die grootte van die hart is kleiner en dit is dunner, wat sleutelfaktore is om hartsiekte te voorkom. Die navorsing het 12 weke geduur met deelnemers met risikofaktore vir kardiovaskulêre siekte, wat ses koppies per dag gedrink het. Die studie verklaar hierdie uitslae toon rooibos kan ʼn doeltreffende, natuurlike keuse wees vir die verbetering van hartgesondheid.
# Twee maatskappye, Eskort en Saronsbergkelder, en die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Norman Catherine, het suksesvol twee-miljoen-rand vir kwesbare kinders regoor die land ingesamel. Die fondse is ingesamel uit die verkoop van beperkte uitgawe Liberi-wyne wat Catherine se kenmerkende kunswerk op hul etikette vertoon. Die geld is geskenk aan die Beeld-Kinderfonds, wat toegewy is aan die ondersteuning van kinderontwikkelingsprojekte. Die fonds se woordvoerder, Adrie van Staden, sê die geld sal aan 20 kinderontwikkelingsprojekte versprei word en sal meer as agt duisend minderbevoorregte kinders bevoordeel.
# Die uitvoerende hoof van die Soweto Modeweek, Stephen Manzini, sal Suid-Afrika hierdie week verteenwoordig op die gesogte BRICS+ modeberaad in Moskou. Dit is ʼn belangrike geleentheid vir ontluikende markte en ʼn bymekaarkomplek vir bedryfsleiers, ontwerpers en kenners. Besprekings handel oor volhoubare ontwikkeling, vernuwing en kulturele erfenis. Die Suid-Afrikaane handelsmerk Sun Goddess sal ontwerpe uitstal wat deur Afrika geïnspireer is. Na die beraad sal die Moskouse Modeweek ‘n geleentheid aan top ontwerpers bied, met die fokus op globale modeneigings.
# Oasis gaan in Augustus en September volgende jaar deur Amerika, Kanada en Mexiko toer as deel van sy reünie-toer. Na ʼn stilte van 15 jaar het Liam en Noel Gallagher in Augustus Oasis se toerdatums na die Verenigde Koninkryk en Ierland bekend gemaak, en kaartjies het onmiddellik uitverkoop. Oasis is in 1991 in Manchester gestig en het een van die suksesvolste groepe van die era geword. Hulle het 75-miljoen albums verkoop en wêreldwyd opgetree. Hulle albums sluit in Definitely Maybe, Be Here Now, en Don’t Believe the Truth.
# En ten slotte: ʼn Een-en-tagtigjarige model het aan die Mej Heelal Korea-kompetisie deelgeneem in ʼn poging om die oudste Mej Heelal-deelnemer in die wêreld te word. Choi Soon-hwa het nie gewen nie, maar is as die besgeklede deelnemer aangewys gedurende die geleentheid in ʼn hotel in die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel. Choi het in hospitaalversorging gewerk voor sy in haar sewentigerjare met haar modelloopbaan begin het. Sy sê mense moet na haar kyk en besef jy kan gesonder lewe en gelukkig wees indien jy jouself uitdaag om ʼn droom te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….