Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 October 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die uitwerking van klimaatsverandering op die land se wynbedryf is wydverspreid en diepgaande. Dit is die bevindings van navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand. Die land het verlede jaar 934-miljoen-liter wyn geproduseer, waarvan 306-miljoen liter uitgevoer is wat tien-miljard-rand verdien het. Die navorsers sê klimaatsverandering sal na verwagting reënvalpatrone meer wisselvallig maak, wat tot meer droogtes en oorstromings kan lei. Hulle voeg by die wisselvalligheid het nie net laer oeste tot gevolg nie, maar bedreig ook voorspelbaarheid.
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het 217 brandbeskermingsverenigings geregistreer om onbeheerbare brande pro-aktief te bestuur. Sommige dele in die land is hoë-risiko brandgebiede met meer as 90-persent wat ‘n boslandskap is. Adjunkminister Bernice Swarts sê een van die grootste bedreigings vir natuurlike plantegroei en waardevolle lewens is onbeheerde veld- en bosbrande. Sy sê die departement plaas die verenigings in ooreenstemming met munisipale grense sodat hulpbronne beter bestuur kan word.
# En ten slotte: ʼn Gedeelte van die grens tussen Italië en Switserland moet oorgeteken word aangesien gletsers op die grens smelt. Groot dele van die grens bestaan uit gletsers en sneeuvelde. Die twee lande het ooreengekom om die grens onder die ikoniese Matterhorn te verander, wat een van die hoogste bergspitse in die Alpe is. Europa is een van die vastelande wat die vinnigste verwarm en dit het ernstige gevolge vir gletsers. Switserland se gletsers het verlede jaar vier-persent van hulle volume verloor en in 2022 ses-persent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….