Goeie Nuus
BULLETIN 19 Maart
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse regering gaan oor die volgende drie jaar meer as 558-miljoen-rand bestee aan ‘n program van voedselvoorsiening deur al sy departemente. Dit word vervat in die Wes-Kaapse Begrotingswetsontwerp vir 2024/25. Altesaam 166,6-miljoen-rand is tydens die 2024 middeltermyn-begrotingstydperk aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling voorsien vir armoedeverligting en veldtogte om volhoubaar te leef. Deidré Baartman van die DA sê die meeste van die geld is vir die voorsiening van voedsel aan die armstes:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap se Departement Fisiese Wetenskappe het ‘n proefprojek begin om leerders by die Hoërskool Soneike in Kuilsrivier voor te berei om uit te blink in fisika. As deel van Projek 2026, kry graad 11-leerders wat Fisiese Wetenskap as skoolvak neem, toegang tot laboratoriumgeriewe by die UWK om hulle aan die ware Jakob bloot te stel. Ian Schroeder van die universiteit sê hulle wil hê leerders moet as eerstejaars op universiteit gedy en nie net probeer oorleef nie:
# Honderde graad 11- en 12-leerders het die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se opedag bygewoon. Die fakulteit se dekaan, professor Barend Erasmus, sê wetenskap se uitwerking strek veel verder as klaskamers en handboeke. Hy sê dit het die mag om lewens te verander, gemeenskappe op te hef en nasies se bestemmings te beïnvloed:
# Die Universiteit van die Vrystaat sê ‘n projek befonds deur die Kresge-stigting, die Siyaphumelela Network, het die instelling in staat gestel om data-ontleding te gebruik om studente se sukses te bevorder. Die universiteit is sedert 2014 ʼn begunstigde van die projek. Die visekanselier, Francois Strydom, sê dit het ook die instelling van vernuwende projekte moontlik gemaak. Dit wissel van akademiese ondersteuning in die vorm van studieklasse, en skryf- en taalondersteuning tot voorsiening in studente se mees basiese behoeftes deur die No Student Hungry-beursprogram.
# En, die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha, Kaapstad, sê hy is oorweldig deur die ondersteuning wat hy op die sesde Pote op die Promenade ontvang het. Altesaam 614 mense en 335 honde het aan die fondsinsameling-staptog in Seepunt deelgeneem waar meer as 45-duisend-rand vir die kliniek ingesamel is. Die kliniek behandel elke maand tot een-duisend-500 diere en bedryf ook ʼn mobiele kliniek en ʼn skuiling. Die kliniek sê sy hoofdoel is om die gemeenskap op te voed en in staat te stel om verantwoordelike troeteldier-eienaars te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….