Nuus 14:00
BULLETIN 7 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorgestelde brandstofvoorraad-beleid kan invoerders se kostes verhoog
# Die adjunkminister van Justisie sê die Wysigingswetsontwerp op Regterlike Aangeleenthede sal aanspreeklikheid versterk
# En sokker: SAFA belê die Wêreldbekerprysgeld in sokkerontwikkeling
# Die finansiële tegnologiefirma Verto waarsku ‘n voorgestelde beleid wat strategiese petroleumvoorraad verpligtend maak, kan Suid-Afrika se brandstofsekerheid versterk, maar ook die kostes vir invoerders verhoog. Die konsepbeleid vereis van die staat om strategiese brandstofvoorraad vir 60 dae aan te hou, terwyl groothandelaars en invoerders verpligte reserwes vir 21 dae moet handhaaf. Verto sê die bykomende voorraad sal bedryfskapitaal bind, befondsingskoste verhoog en wisselkoers-risiko’s verhoog, en vra ondernemings om die finansiële uitwerkings deeglik te beoordeel tydens die openbare raadplegingsproses.
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die Wysigingswetsontwerp op Regterlike Aangeleenthede toon die oppergesag van die reg is nie onveranderlik nie en moet voortdurend in stand gehou en verfyn word. Die wetsontwerp, wat by die Parlement ingedien is, sal help om struikelblokke met die toepassing van die wet te verwyder, reageer op uitsprake van die Konstitusionele Hof, regsonsekerheid verwyder en die regsproses verbeter. Nel sê die voorgestelde wysigings versterk aanspreeklikheid in die regbank, bied groter toeganklikheid en deursigtigheid, en help in die stryd teen korrupsie.
# Die Stad Tshwane gaan ‘n forum stig vir informele handelaars en die township-ekonomie om die ekonomie te laat groei. Dit volg ná groei van 33-persent in die informele en township-ekonomieë wat tussen September 2024 en September verlede jaar altesaam 57-duisend nuwe werksgeleenthede geskep het. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die forum sal ʼn handelaars-geleide platform skep om seker te maak informele handelsorganisasies se stemme word op ʼn gestruktureerde en volhoubare manier gehoor:
# Die GOOD-party beskuldig die Stad Kaapstad van die verberging van ‘n datasentrum-toekenning van 174-megawatt vir privaat datasentrums. Die party beweer die leierskap van die portefeuljekomitee oor Energie ontduik deursigtigheid. Joy Kamineth van GOOD sê die voorgestelde hiper-groot Equinix-datasentrum in King Air Industria sal reusedruk plaas op skaars energie- en water-hulpbronne om korporatiewe infrastruktuur te bou waarby gewone inwoners min sal baat:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê meer as 100-miljoen-rand van sy Wêreldbekerprysgeld van 218-miljoen-rand gaan in sokkerontwikkeling en administrasie belê word. Die voorsitter van die Finansiële Komitee, Mxolisi Sibam, sê die besluit weerspieël spelers se wense om die sport op grondvlak te versterk om toekomstige nasionale sterre te ontwikkel. Plaaslike Premierliga-klubs sal ook baat, met Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates wat elk meer as 25-miljoen-rand sal ontvang vir hul spelers wat deel was van Bafana Bafana se groep. Vyf-en-sestig-miljoen-rand word toegeken vir spelerbonusse en betalings vir afrigtingspersoneel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-316-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….