Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Noordwes-Universiteit het ‘n nabootsings-laboratorium vir virtuele werklikheid bekendgestel wat as die eerste in Suid-Afrika beskou word vir sielkunde en maatskaplike werk. Dit is toegerus met alles van virtuele kopfone, kameras wat beweging opneem en Loco-sensors tot doelgemaakte programmatuur om navorsers met data-insameling te help. Professor Jeanetta du Plessis van die universiteit sê die laboratorium is nie net ʼn sprong vorentoe wat tegnologie betref nie, maar ʼn ernstige toewyding aan navorsing, vernuwing en die toekoms van geesteswetenskappe en gesondheidsorg.
# ʼn Groep studente van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Soshanguve-kampus met behulp van die Arifarane-organisasie, gebruik tegnologie om landbou met vernuwing te vermeng. Die projek kweek plante op die kampus om vars produkte aan ander studente te lewer en armoede onder studente te verlig. Die projekleier, Elvis Malamella, sê die veldtog verseker alle studente kan voordeel trek uit hul harde werk:
# Die Stad Tshwane het die Wonders van Water-fotografiekompetisie bekendgestel. Hierdie nuwe veldtog wil ʼn toekoms voorstel waar skoon, veilige water binne almal se bereik is. Inwoners word uitgenooi om foto’s in te stuur wat die wese van water in Tshwane vasvang. Die metro sê sy doel is om sy potensiaal vir volhoubare ontwikkeling te beklemtoon deur boeiende visuele verhale wat bydra tot ʼn toekomsvisie waar skoon water vir almal ʼn werklikheid is.
# Australië het die Wet op die Reg om te Ontkoppel uitgevaardig, wat werkers magtig om na ure nie-noodsaaklike oproepe en e-posse te ignoreer. Werkgewers kan met tot 1,1-miljoen-rand beboet word indien hulle die nuwe reëls verbreek. Volgens eerste minister Anthony Albanese sal hierdie wet produktiwiteit en geestesgesondheid verbeter. Hy voer aan werknemers word nie vir 24-uur per dag betaal nie en hoef dus nie elke dag 24-uur aan diens te wees nie. Die wet stem ooreen met soortgelyke wetgewing in Frankryk, Spanje en België.
# En ten slotte: Die Engelse rock-groep, Oasis, het sy reünie-toer aangekondig, 15 jaar nadat die broers, Noel en Liam Gallagher uiteen is en die groep ontbind het. Oasis is in 1991 in Manchester gestig en was een van die suksesvolste van hierdie era, met verkope van ongeveer 75-miljoen albums wêreldwyd. Sommige treffer-albums was Definitely Maybe, Be Here Now, en Don’t Believe the Truth. Die toer sal volgende jaar 14 vertonings in die Verenigde Koninkryk insluit, onder meer op Wembley en die Principality-stadion, met kaartjieverkope wat Saterdag open.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….