Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika se mense en omgewing is twee van die land se kosbaarste bates, maar moet beskerm word teen giftige besoedeling, aangevuur deur korporatiewe gierigheid en die regering se gebrek aan optrede. Dié bevinding is vervat in ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se spesiale verslaggewer oor gifstowwe en menseregte, Marcos Orellana. Dit fokus onder meer op lugbesoedeling, billike energie-oordrag, mynbedrywighede en afvalbestuur. Hy sê die regering moet ophou om lisensies uit te reik vir nuwe kweekhuisgas-intensiewe projekte, en infrastruktuur skep vir nuwe afvalstrome van hernubare energie-tegnologie.
# Vanjaar se Sasol-sonkraguitdaging gaan internasionale spanne van universiteite in Nederland en België insluit. Die uitdaging vind oor verskillende afstande plaas, met deelnemers wat slegs sonkragaandrywing vir die motors kan inspan. Die wedren sal oor agt dae deur ses provinsies plaasvind. Die wedren-direkteur, Rob Walker, sê spanne het 16 tot 18 maande geneem om hul sonkragmotors te bou en die wedren gaan oor die strewe na energie-doeltreffendheid. Die uitdaging begin op 13 September in Secunda, Mpumalanga, en eindig by die V&A Waterkant in Kaapstad.
# En ten slotte: Die Namibiese regering het aangekondig dat honderde wilde diere, insluitend meer as 80 olifante, van kant gemaak gaan word, om die vleis te versprei aan mense wat weens ‘n ernstige droogte sukkel om te oorleef. Die regering sê die diere word in parke en gemeenskaplike gebiede geskiet waar daar te veel diere vir weiveld en water is. Volgens Reuters sal byna die helfte van Namibië se bevolking voor die volgende reënseisoen waarskynlik hoë vlakke van voedselonsekerheid ervaar. Beroepsjagters het reeds seekoeie, buffels, rooibokke, blouwildebeeste, sebras en elande begin skiet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….