Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Een van Londen se hoogs-aangeskrewe Michelin-ster-restaurante laat pryse van 30-jaar gelede herleef. Tussen 9 en 27 September sal die kokke by St John in Smithfield, klankte dieselfde laat betaal as toe die restaurant se deure die eerste keer in 1994 geopen is. ‘n Porsie smeltkaas op roosterbrood, oftewel Welsh rarebit, sal beskikbaar wees teen 3-pond-50, sowat 83-rand, terwyl geroosterde beenmurg- en pietersielieslaai mense 4-pond-20, omtrent 99-rand, sal kos. St John is een van Londen se grootste voorstanders van die snoet-tot-stert-kookkuns.
# Die grootste Skotse varswaterpêrel in menseheugenis, die Abernethy-pêrel, bly in die land na dit opgeveil is vir die wêreldrekordprys van byna 2,2-miljoen-rand. Die pêrel is in 1967 ontdek en vernoem na die man wat dit gevind het, William Abernethy, bekend as die gebied se laaste pêrelvisser. Die pêrel moes stilweg in sy mossel gegroei het vir meer as 80 jaar voordat Abernethy daarop afgekom het, wat beteken dit het ontstaan toe koningin Victoria op die troon was. Net een uit elke vyf-duisend mossels wat in Skotse riviere aangetref word, bevat ‘n pêrel.
# ‘n Student aan die Universiteit van Fort Hare, Christopher Bomali, het die eerste opstelkompetisie van die jaarlikse Aartsbiskop Thabo Makgoba-gedenklesing gewen. Studente moes ‘n opstel skryf waarin hulle die Oos-Kaapse premier raad gee oor strategieë om die provinsie se tegniese agteruitgang te oorkom. Bomali het die provinsie se ekonomiese prestasie die afgelope jare oorweeg en belangrike faktore geïdentifiseer wat tot die agteruitgang bygedra het. Hy wen twee-duisend-rand terwyl Tapiwa Mabhandi en Nontanda Bongoza, wat tweede en derde gekom het, onderskeidelik een-duisend-500 en een-duisend-rand wen.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê sy Girls in Tech-program is gemik op die bemagtiging van jong vroue wat loopbane in tegnologie wil volg. Die program verskaf die toerusting, bronne en mentorskap vir vroue om in dié dinamiese veld suksesvol te wees. Die universiteit het onlangs ‘n paneelbespreking op die Soshanguve-Suid-kampus gehou om Vrouemaand en vrouebemagtiging in tegnologie te vier. Die instelling sê namate die tegnologiebedryf ontwikkel, sal veldtogte soos Girls in Tech ‘n noodsaaklike rol speel in die vorming van ‘n meer inklusiewe en diverse toekoms.
# En ten slotte: Die Robin Hood-stigting het baba-geskenkpakkies aan 70 nuwe ma’s oorhandig wat by die RK Khan-hospitaal in Chatsworth, Durban, geboorte geskenk het. Die geskenkpakkies bevat gebreide items, komberse, babaklere, teddiebere, toiletware en sanitêre ware. Die stigting sê baie van die ma’s is so dankbaar want hulle het nie enigiets vir hulle babas om mee huis toe te gaan nie. Hy voeg by dit is alles moontlik gemaak deur hulle Love the Babies-projek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….