Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Nuwe opname deur die Suid-Afrikaanse Windenergie-vereniging onthul daar is ‘n 60-persent toename in windenergieprojekte met meer as 48-gigawatts in ontwikkeling. Die 2024 Suid-Afrikaanse Hernubare Energie-netwerk-opname bied ook ‘n blik oor uitbreidings in nuwe streke soos KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Die vereniging beklemtoon die bevindings is noodsaaklik vir die toekoms van Suid-Afrika se netwerk-infrastruktuur en die ondersteuning van ‘n volhoubare, lae- koolstof energietoekoms.
# Eskom sê hy fokus steeds op sy langtermyn strategie om energiesekerheid, groei en volhoubaarheid te verseker. Die kragvoorsiener het sy laai-punte vir elektriese voertuie by die Eskom-akademie in Midrand, Gauteng, bekendgestel. Die loodsprojek sluit in die verkryging van 20 elektriese voertuie vir operasionele gebruik. Gabriel Kgabo van Eskom sê die mylpaal is ‘n betekenisvolle stap in sy verspreidingsafdeling se verbintenis tot die ontwikkeling van die e-beweeglikheidsektor in Suid-Afrika en by te dra tot die land se doelstellings om koolstofuitlatings te verminder.
# En ten slotte: Ongeveer ‘n vyfde van Swede se bruinbeerbevolking word in ‘n jaarlikse jagtog geteiken ten spyte van besware deur bewaringsgesindes. Sowat twee-duisend-450 van die diere dwaal op die platteland rond ondanks ‘n vermeerdering in jaglisensies, en 486 lisensies wat hierdie seisoen uitgereik is. Volgens CNN het bruinbere in die vroeë 1900s feitlik uitgesterf, maar streng beskermingsmaatreëls het daartoe gelei dat die bevolking teen 2008 tot meer as drie-duisend gestyg het. Die plaaslike bewaringsgroep Big Five sê 100 jaar van bewaring van die bruinbeer, sal ontstellend gou ongedaan gemaak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….